’n Speler van Robertson Rangers bars met brute krag deur ’n paar Villagers-verdedigers. Foto’s: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

ROBERTSON – Terwyl sy buurman, Montagu-klub, op die kruin van sukses ry, duur Montagu Villagers se treurmare voort in vanjaar se Grootuitdaagbekerkompetisie van die Boland rugbyunie.

Villagers het Saterdag 23 Julie, met die hervatting van die tweede ronde, sy sewende loesing op die lyf geloop toe Rangers Robertson hom op die Callie de Wet-sportgronde met 22-18 die loef afgesteek het. Die rustydtelling was 3-3.

Die rooi-en-wit-truie was tot dusver slegs vier keer aan die wenkant.

Hierteenoor het Montagu-klub vir Robertson Town vir die tweede keer vanjaar afgestof en in die proses sy posisie bo-aan die punteleer verstewig. Klub het vir Town op die King Edward sportterrein met 38-36 met die kous oor die kop huistoe gestuur.

Die wedstryd tussen Rangers en Villagers het egter op ’n tragiese noot afgeskop, toe Stephanus Soldaat (68), alombekend as Dallies, ’n oud-Villagers-speler en stoere ondersteuner van die klub, kort ná sy aankoms by die sportgronde, skielik dood is.

Soldaat het na bewering ongesteld geraak kort nadat hy by die sportveld aangekom het en is inderhaas na die hospitaal geneem. Hy is egter met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die nuus van sy skielike afsterwe is met skok en ongeloof deur die toeskouers asook diegene wat hom geken het, begroet.

Nadere besonderhede oor sy onverwagse heengaan is tans nie beskikbaar nie. Die Montagu Villagers- rugbyklub betreur sy ontydige dood en bid vir sy familie en vriende in die hartseer tyd.

Terug by die Rangers-Villagers-wedstryd.

Ten spyte van Villagers se oorheersing in die skrums en hy dan ook eerste punte (strafdoel) op die telbord gehad het, kon hy steeds nie die knoop deurhak teen Rangers nie.

En hoewel Rangers heelmiddag klippe in die skrums gekou het, het sy skerpskutter-losskakel, Dawie Conradie, gesorg dat die telbord aan die rol bly met vier suksesvolle strafdoele wat hy elke dan en wan tussen die pale deurgeklits het.

Hy het ook sy span se enigste drie wat deur Siva Padiachy gedruk is, verdoel. Die kersie op die koek was ’n windmakerige linkervoet-skepdoel van die “regsvoetige”-stelskopper, in die doodsnikke van die wedstryd, om sy puik korrelwerk af te sluit.

Conradie het sewentien van sy span se punte aangeteken en het weereens onderstreep hoe waardevol ’n betroubare en akkurate stelskopper vir enige span is.

Hy het as ’t ware soos ’n Goliat van ouds stelling voor Villagers ingeneem waarby die besoekers nie verby kon kom nie.

Die besoekers het op hul beurt wel twee keer Rangers se doellyn oorgesteek, maar hul skopwerk pale toe het die span gekniehalter.

Ulfred Terblanché, plaasvervanger-agtsteman en Jack van Wyk, plaasvervanger-linkervleuel, het vir die besoekers gaan druk.

Maxwell Klaasen, losskakel van Villagers, was suksesvol met twee strafdoele en een doelskop, maar het ook met ’n straf- en doelskop misluk.

Ook het ’n paar van die span se aangeë op die gras beland en so het belowende bewegings verlore gegaan.

Daarby het die Villagers talle strafskoppe binne trefafstand afgestaan en op die ou end was dit Conradie se uitstekende stelskopwerk wat die deurslag gegee en die wedstryd in sy span se guns geswaai het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article