By die spoggeleentheid het Bennie van Rooi, die president van die Boland-rugbyunie, die kampioenetrofee aan Siva Padiachy, die kaptein van Rangers, oorhandig, terwyl die res van die spanlede toegekyk het. Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

ROBERTSON – Die Rangers Robertson-rugbyklub het vanjaar stof in die oë van die ander spanne in die Breë-Langeberg-afdeling geskop. Dié span, wat ook ’n sterk mededinger in die Top-12-kompetisie was, is uiteindelik as die Breë-Langebergstreekkampioen gekroon. Bennie van Rooi, die president van die Boland-rugbyunie, het die kampioenetrofee Saterdag (10 Desember) tydens die jaarlikse bekeruitdeling in die Callie de Wet-saal aan Siva Padiachy, die kaptein van die RangersRobetson-rugbyklub, oorhandig.

Die voorsitter, Riaan Arendse, het by die geleentheid almal wat tot die klub se sukses bygedrae het, bedank.

“Die Rangers Robertson-rugbyklub is baie trots op sy spelers, afrigters, spanafrigters en ondersteuners vir hul toegewydheid en deursettingsvermoë gedurende dié jaar.

“ ’n Spesiale dankie aan elke speler – van die eerste tot die derde span – wat so hard gewerk het, week in en week uit, en onder moeilike omstandighede alles ingesit het. Die klub se sukses is gewis te danke aan almal se samewerking en opoffering.

“Baie dankie ook aan al die borge wat tot Rangers se sukses op en weg van die veld af bygedra het. Dit was ’n groot voorreg en eer om saam met elkeen te werk. Ons waardeer julle baie en sien daarna uit om in 2023 selfs nog beter te doen,” het ’n aangedane Arendse gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article