Die Darling-polisie nooi alle plaaslike inwoners en organisasies, asook skole, organisasies sonder winsoogmerk, sportklubs, sakeondernemings en kerke om by die Darling-polisie vir die verkiesing van ’n nuwe uitvoerende komitee van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) te gaan registreer. Die bestaande komitee het op 8 Januarie vanjaar ontbind.

Volgens die plaaslike polisie is ’n GPF nodig om onder meer ’n vennootskap tussen die plaaslike gemeenskap en die polisie te vestig en te behou. Ander doelwitte sluit in om kommunikasie en samewerking tussen die gemeenskap en die polisie te bevorder, asook om seker te maak die diens van die polisie word op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak uitgevoer en verbeter.

Deursigtigheid en aanspreeklikheid is ook een van die GPF se doelwitte. Die bevordering van ’n gesamentlike probleemidentifisering en -oplossing tussen die polisie en die gemeenskap is van kardinale belang.

Indien jou organisasie by die GPF wil aansluit, kan benoemings vir lede vir die uitvoerende komitee gemaak word. Slegs organisasies wat lede is, is geregtig tot benoemings.

Die spertyd vir aansoeke om lidmaatskap sluit op 29 Januarie om 16:00. Aansoekvorms kan by die Darling-polisiekantoor afgehaal word.

Die jaarlikse algemene vergadering vind voorlopig gedurende die week van 19 Februarie en 23 Februarie plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article