Die Stad Kaapstad het ’n beloning van R100 000 uitgeloof vir enigiemand wat kan help om die moord op ’n werknemer van die Stad op te los.

Die 48-jarige Wendy Kloppers, wat in die Stad se luggehaltebeheerafdeling gewerk het, het in ’n motor gesit toe sy by ’n behuisingsprojek in Delft doodgeskiet is. ’n Veiligheidswag is ook ernstig tydens die aanval gewond.

Daar is verlede week ook geskiet op kontrakteurs, wat besig is om die Symphony Way-behuisingsprojek in Delft te voltooi. Petrolbomme is ook gegooi.

Die Stad het voorverlede week ’n beloning van R5 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van lede van die sogenaamde “konstruksie-mafia”. Dié mafia bedreig projekte ter waarde van miljarde rande met afdreiging, intimidasie en nou selfs moord.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, sê die Stad gaan R100 000 gee vir enigeen wat met inligting vorendag kom wat tot ’n inhegtenisneming kan lei.

“Ons rou saam met die familie van die amptenaar, wat aan diens was toe sy vermoor is. Hierdie ontwikkelingsperseel was voorheen ook ’n teiken van intimidasie en geweld wat teen die Stad gemik is. Dit dui op ’n toename in hierdie soort voorvalle en ons kan nie langer ander kant toe kyk nie,” sê hy.

Smith sê sy departement se ondersoekeenheid is besig met ’n volskaalse ondersoek.

“Ons benodig die hulp van alle wetstoepassingsagentskappe. Dit is ’n skrale troos vir die oorledene se familie en sal nie hul geliefde terug bring nie, maar ons hoop om haar moordenaar aan te keer,” sê Smith.

Charles George, ’n gemeenskapsleier van Delft, sê hy betreur die aanvalle op die konstruksiebedryf.

“Ek dink in die toekoms moet projekte van hierdie aard in noue samewerking met die gemeenskap gedoen word. Ons kan nie ’n situasie van ons en hulle hê nie, want die gemeenskap voel dit is mense van buite wat werk kom doen wat hulle ook kan doen,” sê hy. Skakel 0800 1100 77 anoniem met wenke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article