ROBERTSON – Die verdedigende Breë-Langebergstreekkampioen, Robertson Rangers, moes Saterdag (22 April) diep delf om Protea RVK van De Doorns in hul Grootuitdaagbeker-ligawedstryd tot oorgawe te dwing.
Rangers het dié rugbykragmeting, wat op die Callie de Wet-veld in Robertson gespeel is, met 33-27 gewen. Never Die, soos die tuisspan algemeen bekend staan, was rustyd reeds 26-13 voor.
Ondanks kookwaterrugby deur ’n begeesterde Protea-span het die Rangers in die eerste helfte ’n stewige greep op die wedstryd gekry nadat hy in dié tydperk vier keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier het.
Die tuisspan, wat hom goed van sy taak gekwyt het, se bonuspunt vir vier drieë is voordat die waterdrinktyd aangebreek het, reeds veilig in die sakkie.
Adriaano Conradie het sy span vroeg in die wedstryd op die voorvoet geplaas met ’n drie wat hy self verdoel het.
Daarna het Michain Fick, Steven Johnson en Keanan Rolosiv ook ’n draai agter Protea se doellyn gaan maak. Conradie het twee van dié drieë verdoel.
In dieselfde tyd het Protea met ’n strafdoel en twee onverdoelde drieë geantwoord, waarna die spanne ná veertig minute van klipharde rugby ’n welkome blaaskans gaan geniet het, met die telling reeds 26-13 in Rangers se guns.
Ná rustyd het Rangers, nadat hy met ’n strafdoelpoging misluk het, wel kort daarna sy voorsprong met ’n verdoelde drie verder vergroot.
Sachin Snyman het gaan druk en Conradie, wat goed gekorrel het, het nog twee punte met die doelskop bygevoeg om die telling tot 33-13 te neem.
Conradie se persoonlike bydrae was aan die einde van die dag ’n waardevolle 13 punte, bestaande uit ’n drie en vier doelskoppe.
Toe Rangers sy vyfde drie aanteken, het dit gelyk of hy met die wedstryd gaan weghardloop, maar dit was juis toe – kort ná Snyman se drie – dat Protea met ’n merkwaardige terugvegpoging vorendag begin kom het.
Die besoekers het Rangers se verdediging tot die uiterste beproef.
Telkens wanneer ’n strafskop aan Protea toegeken is, het hy dikwels ’n vinnige tikskoppie weggestuur en verwoed aangeval.
Rangers het dan gesukkel om al die gate toe te stop, want Protea het die bal vinnig en wyd gespeel.
Op dié manier het Protea met mening teruggeslaan en twee verdoelde drieë kort ná mekaar gedruk.
Skielik was die telling 33-27 met die besoekers weer sterk terug in die wedstryd.
Die wedstryd is egter hierna vir etlike minute onderbreek weens ’n dispuut rakende die aanwending van plaasvervangers.
Die skeidsregter het die wedstryd gestop en die kwessie langs die veld met die betrokke klubbeamptes uitgeklaar, waarna die wedstryd hervat is.
Maar, hoe dit ook al sy, Rangers het vasgebyt en uiteindelik die Protea- stingel geknak om die kragmeting 33-27 in sy guns te beklink.





