Harold Cleophas, die uitvoerende burgemeester van die Swartland, het die voorreg gehad om die seremoniële lint by die ingang van die Crestcare Malmesbury-hospitaal te knip. Links van hom staan Kit Wostenholm, uitvoerende hoof van die Crestcare-hospitaalgroep, saam met Arnold Pistorius, voorsitter van Twin City (regs) en Ngange Nongogo van Summit Private Equity Partner and Value Add Lead (heel regs). Foto’s: Charlotte Lesch


Die amptelike inhuldiging van Crestcare Malmesbury het emosionele oomblikke en trane van blydskap opgelewer toe Kit Wostenholm, die uitvoerende hoof van die hospitaalgroep, gaste binne die splinternuwe ontvangsarea van hul nuwe private hospitaal verwelkom het.

“Dit voel ongelooflik, dog emosioneel, om eerlik te wees,” het Wostenholm die afgelope Donderdag (18 Julie) gesê noudat hul visie vir toegang tot bekostigbare mediese sorg deur hul 84-bed-hospitaal in Malmesbury ’n werklikheid geword het. “Dit was ’n ongelooflike reis om tot hier te kom. Alles is uitgevoer soos ons beplan het. Die gebou is ongelooflik, maar wat die hospitaal nog meer fantasties maak, is die wonderlike dokters en personeel. Dit is die mense wat dit laat werk. Nou begin die regte werk deur die fasiliteit as ’n alternatief te gebruik en ’n oplossing vir beskikbare professionele mediese sorg te wees. Dit is ’n voorreg en ons neem dit nie ligtelik op nie,” het hy oor die uitdagings wat nou voorlê, uitgebrei.

Charl Hambridge, die nuwe uitvoerende hoof van Crestcare Malmesbury, het op sy beurt gesê hy is baie opgewonde en terselfdertyd verlig dat dié dag uiteindelik aangebreek het. Volgens hom het elkeen wat by die ontwikkeling betrokke was, die geleentheid moontlik gemaak. “Elkeen in die span het sy unieke funksie gehad wat hy moes doen en dit het net gebeur. Ons is verskriklik dankbaar teenoor die gemeenskap asook wat werkskepping en die ondersteuning vir die plaaslike algemene praktisyns en gesondheidsorg betref.”

Ngange Nongogo, ’n vennoot en die voorsitter van gesondheidsorg binne Summit Africa, wat die projek finansier het, beskryf Crestcare Malmesbury as ’n “labour of love.”

“Ons dank die Here dat die hospitaal nou gereed is,” voeg hy by.

Volgens Wostenholm was dit van die begin af hul missie om die gebrek aan bekostigbare, gehalte- mediese sorg in buitestedelike, landelike en dorpsgebiede die hoof te bied.

“Pasiënte was genoodsaak om voorheen sowat 40 km te reis vir dié soort diens. Hier by Crestcare streef ons na gehalte- mediese sorg binne bereik. Ons is daartoe verbind om private mediese sorg bekostigbaar en uitsonderlik vir almal oral te maak,” het hy kort voor die amptelike lintknipseremonie aan gaste gesê.

Die Crestcare Malmesbury-hospitaal is ’n vennootskap tussen mediese spesialiste, die gemeenskap, Twin City en Summit Private Equity Fund. “Die samewerking verseker broodnodige mediese dienste deur meer as die 18 spesialiste wat onder meer narkotiseurs insluit, vir die mense van Malmesbury en die breër gemeenskap van die Swartland,”’ lui ’n verklaring.

Hy het benadruk dat Crestcare ’n spangebaseerde mediese benadering het. “Dit gaan oor samewerking waar die fokus op die pasiënt geplaas word.”

Hambridge hoop dat die hospitaal sy deure op 1 Augustus vir pasiënte sal open sodra alle formaliteite deur die departement van gesondheid eers afgehandel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article