Van links staan Sean Walsh, uitvoerende hoof van KAL Group, Du Toit Wessels van Graan SA, die gasspreker en voormalige Springbokspeler Os du Randt, die gasspreker en internasionale rugbyafrigter Loffie Eloff en Daneel Rossouw van Nedbank. Foto’s: Charlotte Lesch


Graan SA se landbouseminaar tydens die Swartland-skou in Moorreesburg was weer vanjaar ’n groot sukses met sowat 500 produsente en ander rolspelers in die landbou wat die geleentheid op 8 September bygewoon het.

Dirk Strydom van Graan SA het beklemtoon dat hul instansie nie sonder produsente kan voortbestaan nie.

“Die land kan nie wees wat hy is sonder produsente nie. As jy ’n land vol probleme het, is die land honger. As ’n land honger is, het jy onstabiliteit en julle gee daardie stabiliteit vir ons. Daarom is ons hier om julle te help met waar julle moet wees,” het hy aan gaste gesê. Hy het graanprodusente die waarborg gegee dat hulle produsente daagliks daarmee help.

Die seminaar het vanjaar die bekende prof. Theo Venter, professor verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, as gasspreker gehad. Hy het onder meer gesels in die konteks waarin landsburgers hulle tans in Suid-Afrika en die aanloop tot 2024 se nasionale verkiesing bevind. Venter het verder gesê mense moet hul veiligheidsgordel van nou af tot die begin van die verkiesing ’n bietjie stywer trek. “Die uitsprake gaan al meer dramaties raak.”

Hy het ook die Wes-Kaapse regering en veral die plaaslike departement van landbou geloof vir die goeie werk wat hulle in dié provinsie doen. Volgens hom is dit die enigste landboudepartement wat opstaan vir hul produsente. Venter het ook nie geskroom om raad aan ander provinsies en hul betrokke leiers te gee oor hoe hulle hul sake agtermekaar kan kry nie.

Volgens hom gaan produsente en rolspelers voort met hul werk in die landboubedryf ten spyte van die regering wat aan bewind is en nie as gevolg van watter regering aan bewind is nie. “Die situasie in die land stuur in 2024 af op ’n verkiesing – ’n verkiesing wat uniek gaan wees in die sin dat dit 30 jaar ná 1994 is. Dit is belangrik, want in die teorie van hoe regerings verander, sê ons dat dit in siklusse van 25 tot 30 jaar loop. Dit is omtrent die tydperk van een generasie.”

Met die afskop van die 2023- Rugbywêreldbeker later daardie aand het die organiseerders dit goedgedink om kenners op dié gebied te nooi. Die oudrugbyspelers en voormalige Springbokke Os du Randt, Naas Botha en die gewese wêreldrugby-afrigter Loffie Eloff het ook die geleentheid bygewoon. Hulle was elkeen positief oor die Springbokke se kans om weer die beker huis toe te bring.

Die gaste het dit ook geniet om hulle oor die Springbokke en hul spel uit te vra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article