Sers. Nathan Williams (38) verbonde aan die Riebeeck-Wes-polisiekantoor het Maandag 5 Augustus in die Malmesbury-hof verskyn nadat hy na bewering van sy familielede aangerand het.
Williams het op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en gesinsgeweld in die hof verskyn, waar sy saak tot eerskomende Vrydag (16 Augustus) uitgestel is, volgens brig. Novela Potelwa, ’n Wes-Kaapse polisie-woordvoerder.
Volgens ’n artikel van Rapport, wat op 11 Augustus aanlyn gepubliseer is, het Williams eers sy suster (50), en toe ook sy 23-jarige susterskind en sy ma aangerand.
Potelwa het bevestig die beweerde aanranding het Vrydag 2 Augustus in Deon Adamslaan, Riebeeck-Wes, plaasgevind.
“Interne tugstappe is sedertdien ingestel,” het Potelwa bevestig.
Luidens Rapport het Williams en sy suster op die dag van die aanranding “ ’n paar keer na mekaar gehap” waarna hy na bewering later die aand uit sy kamer geloop het, reguit op haar afgepyl het en haar met die vuiste bygedam het.
“Met sy [Williams se] eerste hou het ek geval en op die bank beland. Hy het bo-op my gesit en my met die vuis in my gesig geslaan,” het sy aan Rapport vertel.
Daarna het Williams se susterskind hom glo probeer keer, waarna hy haar ook na bewering met die vuis geslaan het.
Williams se ma het toe ook tussen hom en sy familie ingetree, waar hy haar weggestoot het, het Rapport berig.
Toe Williams se suster haar bewussyn herwin, het haar broer voor haar gestaan.
Op foto’s is Williams se suster se oë toegeswel en verskeie kneusplekke aan haar gesig is sigbaar.
Sy het aan Rapport genoem dat haar gesig darem besig is om te herstel, maar dat die “emosionele letsels” steeds daar is.
Williams se suster het onmiddellik ná die voorval ’n klagte by die Riebeeck-Wes-polisiekantoor aangemeld, waarna haar broer dieselfde aand nog in hegtenis geneem is.
Volgens haar het hy verlede Sondag (4 Augustus), twee dae ná die voorval, ook ’n klagte teen haar aangemeld waarin hy beweer dat sy hom met ’n glas geslaan het. Sy ontken egter dié bewering ten sterkste.
Dit blyk Williams was die aand van die voorval moontlik onder die invloed van alkohol.
In die verklaring van Potelwa sê die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, lt-genl. Thembisile Patekile, dat “polisiebeamptes in hierdie verband deur voorbeeld moet lei omdat misdade teen vroue, kinders en ander kwesbare groepe steeds ’n prioriteit binne die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) is.”
“Dit is ontstellend dat die beskermers van die samelewing aan die verkeerde kant van die reg is in ’n tyd wanneer ons [die SAPD se] pogings om geslagsgebaseerde geweld hok te slaan, verskerp moet word.”
Paarl Post, susterskoerant van Gazette, het uitgereik na Williams se suster, maar sy wou nie kommentaar lewer nie.




