Gerugte van ’n lyk wat glo vroeg Dinsdagoggend (1 November) op die Wesbank-sportterrein deur gemeenskapslede gewaar is, het kort daarna op sosiale media die ronde begin doen. Die Malmesbury-polisie is sowat 06:00 ontbied nadat ’n man glo met ’n mes gesteek is.

Met die polisie se aankoms op die toneel is ’n 29-jarige man met ’n messteekwond in Varingstraat, reg oorkant die sportterrein, aangetref.

Die slagoffer, Niklaas Swarts, wat in Koljanderstraat gewoon het, se liggaam is vroeg die oggend deur mense wat op pad werk toe was, gewaar.

Die slagoffer het ’n meswond in die bors gehad.

Die polisie vermoed dié sinnelose moord was die eindresultaat nadat Swarts vermoedelik beroof is.

Drie verdagtes is dieselfde oggend in hegtenis geneem.

Die 23-jarige, 29-jarige en 43-jarige verdagtes het Maandag (7 November) in die Malmesbury-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Die polisie moedig mense, wat meer inligting rakende die moord het, aan om sers. Gloria Bushula by 022 482 7500 te bel of die Crime Stop-nommer by 08600 10111 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article