MONTAGU – Vier mense is Vrydag 3 Februarie in verband met dwelmverwante misdade in hegtenis geneem.
Twee van die mense is tydens ’n gesamentlike misdaadvoorkomingsoptrede, waarby verskeie polisie-eenhede – waaronder die Worcester-K9-honde-eenheid, die teen-bende eenheid, lede van die misdaad-inligtingbestuur en analisesentrum asook die plaaslike polisie betrokke was – in hegtenis geneem.
Dié inligtingsgedrewe optrede is vroeg in die oggend gedurende beurtkrag in die Mandela Square-woongebied uitgevoer.
Die ander twee mense wat in hegtenis geneem is, is in die uitvoering van algemene polisiewerk aangekeer.
Een was glo ’n verdagte in ’n huisbraaksaak. Hy is met sy inhegtenisneem deurgesoek en is na bewering met mandraxtablette in sy besit betrap.
Die ander een is in hegtenis geneem nadat ’n wakker polisiebeampte blykbaar gesien het hoedat die verdagte geld in ruil vir items in ontvangs neem. Dié voorval het helderoordag in Markstraat plaasgevind.
Gedurende bogemelde polisieoptredes is op verskillende hoeveelhede kwart, halwe en heel mandraxtablette, tikstrooitjies, dagga sowel as geld beslag gelê.
Intussen het sers. Glenton Jansen duur produkte by iemand wat by ’n bekende gastehuis tuisgegaan en dit glo gesteel het, ná ’n goeie stukkie speurwerk teruggevind. Die slagoffer, ’n inwoner van die Strand, se selfoon, juweliersware en sonbril is na bewering op 15 Januarie uit die kamer waar sy en haar eggenoot tuisgegaan het, gesteel. Jansen het onlangs ’n ring en ’n sonbril van die slagoffer teruggekry.



