Drie misdaadvoorkomingsoptredes is onlangs deur eenhede van die Worcester-polisie in samewerking met die Montagu-polisie uitgevoer, waartydens op groot hoeveelhede dwelms en geld beslag gelê is.

Lede van die Breederivier-K9-honde-eenheid, die Worcester-teenbende-eenheid en misdaad-intelligensie van die Worcester-tak, bygestaan deur polisiebeamptes van die Montagu-polisiekantoor, het op 21 Julie, 28 Julie en 19 Augustus ses verdagtes, onder wie een vrou, in hegtenis geneem. Die verdagtes se ouderdomme wissel tussen 36 jaar en 63 jaar.

Verskeie woonhuise, wat vooraf geïdentifiseer is, is deurgesoek en lede het op dwelms, en in sommige gevalle ook geld, beslag gelê.

Die polisie het Donderdag 21 Julie op huise in Wilhem Thyslaan, Olienlaan en Mandela Square toegeslaan. ’n Groot aantal tikstrooitjies en mandrax-tablette is by die onderskeie adresse gevind.

’n Week later, op 28 Julie, is op ’n hoeveelheid tikstrooitjies en ’n bedrag geld in ’n polisieoptrede in Mandela Square beslag gelê.

Twee woonpersele in Fluksstraat is in ’n optrede op 19 Augustus deurgesoek, waar op nog ’n groot hoeveelheid mandrax-tablette beslag gelê is.

Die se wat die polisie afgeneem het, het ’n geskatte straatwaarde van R170 000.

In `n ander onverwante voorval is ’n 18-jarige verdagte op dieselfde dag in besit van gesteelde eiendom betrap, danksy die skerp oplettende gedrag van ’n wakker polisiebeampte.

Sers. Glenton Jansen, sektorbevelvoerder van die Ashbury-woongebied en -nywerheidsgebied, het op dié betrokke dag algemene misdaadvoorkomingspatrollie te doen toe hy die verdagte in Buitekantstraat met ’n wit sak oor die skouer opgemerk het.

By nader ondersoek het Jansen vasgestel die inhoud van die sak bevat ’n gesteelde figuursaag en het dit aan die regmatige eienaar terugbesorg nog voordat dié agtergekom het sy saag is gesteel.

Die verdagte, wat deur Jansen in hegtenis geneem is, staar ’n aanklag van die besit van gesteelde eiendom in die gesig.

Volgens AO Suria Meyer is bogemelde dwelmsake nog hangende in afwagting van die laboratoriumverslae oor die dwelms.

Die verdagtes is op waarskuwing vrygelaat en sal vroeg aanstaande jaar teregstaan op aanklagte van die besit van en handel in onwettige dwelmmiddels (tik en mandrax).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article