Ockert Heyns (Kaap Agri), Johnny Steenkamp (onderburgermeester van die Langeberg-munisipaliteit), Tania Tait (Shoprite, Fresh Mark), Jacobus Fredericks (Langeberg-landbouwerker van die jaar/streekwenner), Pauline Hess (Speaker van die Langeberg-munisipaliteit) en Juan de Lora (Wes-Kaapse departement van landbou). Die foto is tydens die Breërivier-wynland- landelike ontwikkelingsvereniging se jaarlikse Langeberg- Prestige Agri-prysuitdeling vir plaaswerkers geneem. Foto: Norman Evertson


ROBERTSON – Die Breërivier-wynland- landelike ontwikkelingsvereniging het die afgelope Donderdag (24 Augustus) sy jaarlikse Langeberg- prestige agri-prysuitdeling vir plaaswerkers in die Langebergstreek op luisterryke wyse in die Robertson-stadsaal aangebied.

Die werkers het in verskeie afdelings – algemene werker, drywer, besproeiingspesialis, tegniese operateur, landbou-verwerking, maatskaplike ontwikkeling, administratiewe personeel, voorman/voorvrou, junior bestuur en middelbestuur – meegeding.

Altesaam 49 inskrywings is vir vanjaar se kompetisie ontvang.

Juan de Lora van die Wes-Kaapse departement van landbou verantwoordelik vir landbou-ontwikkelingskoördinasie het die plaaswerkers in ’n kort toespraak bedank en die belangrike rol wat landelike werkers in die landbousektor speel, beklemtoon.

“Een van die belangrike projekte wat ons doen, behalwe dié kompetisie, is om seker te maak ons plaaswerkers en produsente is veilig op hul plase. Ons is saam met die departement van gemeenskapsveiligheid besig met verskeie programme wat ons uitrol,” het De Lora ter inleiding gesê.

“Maar die funksie is eintlik om vir julle te wys ons gee om vir julle. Vir die groot rol wat julle elke dag vervul en die opofferings wat julle maak om elke dag op te staan en seker te maak die mense van die Wes-Kaap en die mense van Suid-Afrika – en nie net Suid-Afrika nie, maar oor die wêreld heen – het eerstens iets om te drink en dan iets om te eet. Want, as julle dit nie doen nie, weet ek nie wat sal gebeur nie.

“So, baie dankie vir dit wat julle doen. Ons is regtig dankbaar vir julle.”

Die gasspreker by die geleentheid was André Cloete, ’n veelsydige boer van die Caledon/Genadendal-omgewing.

Cloete, wat self op ’n plaas in Grabouw grootgeword het, het sy lewensverhaal kortliks gedeel.

Hy het onder andere vertel dat hy op sesjarige ouderdom vir sy ma gesê het hy wil eendag soos die plaaseienaar wees – ’n Engelsman wat almal master genoem het.

Hy het destyds vir sy ma gesê: “Ma, ek wil soos master wees.”

Hy het vertel dat hy onder moeilike omstandighede skool klaargemaak en daarna verder gaan studeer het.

Ná sy tersiêre studies het hy in 1988 in Grabouw as ’n leerling-besproeiingsontwerper begin werk. Hy het sewe en ’n half jaar by die ou Elgin-koöperasie as ’n assistent-besproeiingsontwerper gewerk en later ’n plaasbestuurder geword.

Ná jare se gesukkel het hy uiteindelik ’n lappie grond in die Caledon-Genadendal-omgewing, waar hy tans boer, bekom.

“Om suksesvol te wees, is harde werk, maar ons moet bo ons omstandighede uitstyg en op die positiewe dinge fokus.”

Cloete het die plaaswerkers wat aan die kompetisie deelgeneem het, geloof en gesê diT Is ’n mylpaal wat hulle bereik het “en ’n stap in die regte rigting”.

“Kan ’n plaaswerker ’n rolmodel in sy samelewing wees? Ja, gewis, ja.”

Die pryswenners is ná Cloete se toespraak aangekondig.. Algemene werker-afdeling: Karools Human van De Wetshof-landgoed.. Drywer-prys: Caywood Hayman van Van Loveren Vineyards. . Besproeiingspesialis-afdeling: André Baardman van Excelsior-landgoed.. Tegniese-operateur-prys: Jacobus Fredericks van Bonnievale-wynkelder. . Landbou-verwerkingsafdeling: Fezile Badela van Graham Beck-wyne.. Maatskaplike ontwikkeling-afdeling: Jacqueline Pieterse van Van Loveren Vineyards.. Administratiewepersoneel-afdeling: Kristin Johnson van Bonnievale-wyne.. Voorman/voorvrou-afdeling: Johnelee Pieterse van Esona Wine Boutique.. Junior bestuur-afdeling: Andries September van Graham Beck-wyne.. Middelbestuur-prys: Johannes Jelander van Graham Beck-wyne.. Werker met die beste potensiaal: Chris-Lynn Pick van Graham Beck-wyne.. Beste presterende plaas: Graham Beck-wyne.

Die mees gesogte prys van die kompetisie, die Langeberg-landbouwerker van die kaar en die streekwenner, is deur Jacobus Fredericks van Bonnievale-wyne gewen.

“Ja, ek is bly dat ek gewen het. Ek is nie juis voorberei vir ’n toespraak nie, maar ek wil net vir almal wat hier is, baie dankie sê. En almal wat pryse en sertifikate gekry het –ons almal is wenners. Jy`s ’n wenner in jou werk. So, ja, ons almal is wenners,” het ’n opgewonde Fredericks agterna in sy kort impromptu-wennerstoespraak gesê.

Die geselligheid is met ’n heerlike ete en nagereg afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article