Lize Albertyn-du Toit saam met Nana by Riemvasmaak, wat haar na die grafte geneem en die tradisies daarvolgens gedemonstreer het.


Lize Albertyn-du Toit van Riebeek-Wes se tweede roman, Duifeling, verskyn vandeesweek op die winkelrakke.

En volgens Albertyn-du Toit was die tweede boek baie moeiliker om te skryf as haar eerste roman, Die kinders van Spookwerwe, wat in 2019 sy debuut gemaak het.

Ná navorsing van byna vier jaar en duisende kilometers later, kan lesers uiteindelik uitsien na die verhaal van Sara Koordom, wat op ’n raaiselagtige wyse op die dorre Noord-Kaapse dorpie Rooiduin beland het, vertel sy opgewonde.

Albertyn-du Toit het aanvanklik haar reis met boek nommer twee naby die Namibiese grens afgeskop en haar later in Riemvasmaak tussen die Nama-bevolking gevestig, vanwaar Sara se verhaal uitspruit.

“Die dorp wat die naaste aan Rooiduin geleë is, is Bidkonstant, omdat daar konstant na reën gebid word. Dit is waar Sara haar inkopies doen. Sy gaan gereeld na dié dorp. Niemand weet eintlik waarom nie, omdat daar nie regtig geld is nie. Sara werk gratis vir verblyf by die Boskat-gesin,” verklap die skrywer.

Lize Albertyn-du Toit se nuwe roman, Duifeling (NB Uitgewers) is eersdaags in boekwinkels.

Albertyn-du Toit, ’n voormalige onderwyseres by die Riebeek-Vallei- Spesiale Skool in Riebeek-Wes, brei meer uit oor die titel Duifeling, wat ’n donker en ’n ligte kant verteenwoordig. “Jy het ’n duif en ’n duiwel. As jy kan lief raak vir jou duiwels, dan is jy toeganklik vir ander en kan jy geliefd word deur ander en uiteindelik ’n duifeling word,” verduidelik sy. “As jy heeltyd skerm vir wie jy is, bly jy van jou menswees verwyderd. Jy moet leer om met jou duif en jou duiwel saam te leef. Dit is wat Sara ook moet leer.”

Die boodskap het spontaan aan Albertyn-du Toit gekom. Vir haar is dit ’n groeiproses saam met haar karakters wat elkeen fiktief van aard is.

Sy vertel hoe sy namiddae ná skool die pad aangedurf het om haar navorsing te gaan doen. Sy is nie bang om alleen die land se grense oor te steek en te gaan verken nie. Sy beskryf ook haar man, Stephanus, as “dierbaar, wat nie omgee om sy vrou te groet vir ’n paar dae aan een nie”, skerts sy.

Albertyn-du Toit is op 9 Mei in die Malmesbury-biblioteek gedurende ’n boekbekendstelling te sien waartydens sy vir lesers ’n dieper blik op Sara, haar verhoudinge met die mense in haar lewe op Rooiduin en haar uitdagings sal gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article