Malmesbury se Marais Erasmus tree binnekort uit die internasionale krieketwêreld. Hy het verlede week, kort ná sy 60ste verjaardag, sy uittrede as internasionale skeidsregter aangekondig.
Sedert Erasmus in 2002 sy eerste witjas vir ’n eersterangse wedstryd aangetrek het, het sy eerste internasionale wedstryd in Februarie 2006 tussen Australië en Suid-Afrika gevolg. Dit was ’n T20-wedstryd op die Wanderers. Hy is in 2010 in die Internasionale Krieketraad (IKR) se elite-paneel opgeneem – ’n reuseprestasie in krieketterme.
Sedertdien het hy gereis vir 80 internasionale toetse, 124 eendagwedstryde en 43 T20’s vir mans, asook 131 wedstryde as TV-skeidsregter. Dit sluit vier Wêreldbekerstryde in: 2011, 2015, 2019 en 2023.
Hy het ook 18 vroue-T20’s op sy kerfstok.
Erasmus is tydens sy loopbaan allerweë geloof vir die statuur en integriteit wat hy aan die amp verleen – geen wonder nie dat hy drie keer die David Shepherd-trofee as beste internasionale krieketskeidsregter van die jaar ontvang het: in 2016, 2017 en 2021. Slegs Simon Taufel het die trofee meer kere verower (vyf keer).
Erasmus moes tydens sy loopbaan talle nuwe ontwikkelinge soos hawk-eye en vreemde situasies tydens Covid-19 bemeester. Daar was soms omstredenheid oor beslissings, soos verlede jaar se Wêreldbekerherrie tussen Sri Lanka en Bangladesh toe Erasmus die tweeminutereël moes toepas. Hiervolgens het Angelo Matthews die eerste kolwer in die krieketgeskiedenis van 146 jaar geword wat moes terugstap kleedkamer toe nadat hy te lank gedraal het om te begin kolf.
Terwyl Suid-Afrikaners en krieketliefhebbers 18 jaar lank graag gekyk en baie gesels het oor uitdagende beslissings wat Erasmus op internasionale skaal moes maak, verkies hy nou ’n rustiger lewenstyl.
“Ek was bevoorreg om die wêreld se beste spelers in ikoniese stadions te sien speel. Ek het vele voorregte, interessante reise en kameraadskap van kollegas beleef.
“Ek sal dit soms mis, maar ek het genoeg daarvan gehad om buite my gemaksone te leef. ’n Meer vervelige lewe is waarna ek nou verlang.”
Erasmus het die IKR reeds in Oktober 2023 ingelig oor sy besluit om einde April uit die internasionale arena te tree.
Voordat hy die lang pad na skeidsregterskap aangepak het, was hy nege jaar lank ’n Boland-krieketspeler, onderwyser en gholfliefhebber. Erasmus en sy vrou, Adéle, was vroeër onderwysers by die Laerskool Swartland in Malmesbury.
“Adéle was die afgelope 18 jaar my rots,” het hy die naweek uit Wellington, Nieu-Seeland, gesê – waar hy vir die laaste keer sy witjas op internasionale vlak dra vir die toetsreeks tussen Nieu-Seeland en Australië. “Dit sou vir my onmoontlik wees om die reis sonder haar suksesvol te voltooi. Ek is ook trots op my seuns, Chris en Geo, wat ten spyte van ’n ‘abnormale’ familielewe so normaal is.”
Sy toekomsplanne? “Ons beplan ’n paar binnelandse toere; ek wil hierdie winter afvat. Van September af is ek in die hande van Krieket Suid-Afrika. Ons moet nog finale reëlings tref oor hoe hulle my wil aanwend.
“Ek is beskikbaar as skeidsregter vir plaaslike wedstryde en sal graag as mentor vir opkomende skeidsregters optree.”. Bron: cricbuzz 28 Februarie





