“Hou die balle in die lug!” was Saterdagaand die tema van Malmesbury Sakekamer en Agri Malmesbury se gesamentlike prysuitdelingsdinee. Hiermee bied hierdie twee organisasies jaarliks erkenning aan ondernemings wat in huidige tye vasbyt en steeds floreer.
Geïnspireer deur Kolletjie, die sewejarige Jack Russell wat duisende mense in Augustus met sy bal-vaardighede bekoor het, het die tafel- en saalversierings die tema met vrolike balle en ballonne uitgebeeld.
Die wenner in die afdeling groot ondernemings was die tweede agtereenvolgende jaar Malmesbury Superspar, met Kaap Agri in die tweede plek. Malmesbury Fisheries – die eerste keer sedert die pandemie ’n finalis in die kompetisie – is in die derde plek. Build It Malmesbury en RSAM beklee die vierde en vyfde plekke in hierdie afdeling.
Geard Apteek was die wenner in die afdeling vir medium ondernemings. Dié apteek het ook in 2022 met dié prys weggestap. Die naaswenner was Bergzicht Dierehospitaal met Flynet / Cornergate in die derde plek.
Nuwelinge in die kompetisie en wat onder die eerste vyf geëindig het, is Courier Guy Malmesbury en Sabino Canyon Spur.
Manie’s Halaal Take Aways het – soos laasjaar – die eerste plek in die afdeling klein ondernemings ingeoes. Swartland Apteek was tweede, gevolg deur Koffie (derde). W.R. Motors en Die Kookwaterwinkel (beide nuwelinge) was verdere finaliste in hierdie afdeling.
Die afdeling waar indiwidue vir uitstaande dienslewering beloon word omdat hulle altyd die ekstra myl vir kliënte stap, het 73 benoemings opgelewer. Tydens die stemproses is die besonder hoë getal tot vyf finaliste verminder. Uiteindelik was die wenner Abduraghmaan Allie van Manie’s Halaal Takeaways. Tayla Erentze van Ella Bella Beauty Salon is tweede met nog ’n nuweling in die kompetisie, Jeanne Steyn van Swartland Dojo, derde. Johan Beukes van Cherry Lane en Werner Rautenbach van W.R. Motors was verdere finaliste.
Hierdie kompetisie se uitslae word bepaal deur die stemme van Malmesbury-inwoners. Die stemproses het vanjaar 200% meer geldige stemme as in 2022 gelewer.




