Jonathan Genis stel Swartland Toerisme-Riebeekvallei se unieke “Made in Riebeek Valley”-kitsskakelkkode-etiket aan lede bekend.


Die eerste fase van Swartland Toerisme-Riebeekvallei se unieke “Made in Riebeek Valley”-kitsskakelkode-etiket is die afgelope Donderdagaand aan plaaslike lede bekendgestel.

Jonathan Genis van Riebeek-Kasteel, wat met die inisiatief van ’n kitsskakelkode-etiket na die plaaslike toerismeorganisasie gekom het, glo plaaslike produsente en die vallei sal as ’n toerismebestemming voordeel uit die projek trek.

Volgens Genis, wat deel van die plaaslike toerismeorganisasie is, poog hulle om met behulp van die etiket uiteindelik voete na Riebeekvallei te lok.

Hy brei uit en verduidelik dat toerisme met die eerste fase wil sien of die etiket wat op plaaslike produkte geplak is, deur verbruikers en toeriste geskandeer word. “Wanneer iemand ’n QR-kode op ’n bottel wyn skandeer, sal ons kan sien waar die produkte wat hier gemaak word, eindig, wanneer dit ons grense verlaat en waarheen dit gaan.” Volgens hom kan dit voordelig wees wat bemarking en toekomstige beplanning betref.

“Indien die produk elders geniet word, kan die verbruiker dit skandeer, wat die verbruiker na die Swartland Toerisme-Riebeekvallei se webblad sal neem, waar al ons lede se kontakbesonderhede is.”

Die verbruiker kan sien waar die produk vandaan kom en gemaak word.

“Dit neem hom na die omgewing waaraan die verbruiker die produk kan koppel. As iemand die produk geniet, wil hy dalk hier kom kuier.”

Die plakkers is esteties mooi en so ontwerp om by alle produkte te pas, voeg Ann Heyns van Swartland Toerisme-Riebeekvallei by.

Genis verduidelik verder dat hulle die sagteware het wat hulle gaan wys waar die produkte oral in die wêreld geskandeer is.

“Ons kan maandeliks statistiek trek wat van nut vir almal kan wees.”

Indien die eerste fase suksesvol is, sal ’n tweede fase uitgerol word, wat onder meer produkspesifieke etikette insluit.

“Indien dit werk, gaan ons dit verder ontwikkel dat hierdie ding waarde aan julle gee soos dit waarde aan ons gaan gee.”

Lede van die plaaslike toerismeorganisasie het ’n eerste blik van die plakkers gedurende die bekendstelling by The Valley Bistro Wine Boutique & Deli gekry, waar elkeen 99 van die plakkers ontvang het om uit te toets.

John Relihan van Relihan Gin, wat die geleentheid bygewoon het, is oortuig dat die projek kan werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article