’n Plaaslike ingenieursfirma het onlangs sy honderdste versending van ’n spesiale verdamper gelewer en poog om hierdie spesiale ontwerp in 2023 met ’n nuwe weergawe te verbeter.
Smitson Engineering is welbekend vir sy kundigheid in water- en stoompypwerk, hoëdruksweiswerk, ketelinstallasies en inspeksie van ketels en drukvate sowel as algemene herstelwerk.
Die maatskappy word beskou as een van die baanbrekers in die land en verskaf gereeld oplossings vir problematiese situasies in talle nywerhede binne Suid-Afrika, oor grense in buurstate en selfs oorsee.
Hoewel hierdie maatskappy in 1970 in Parow gestig is, het Smitson Engineering in Maart 2002 met Jabez Engineering van Bonnievale saamgesmelt om ’n tak in Robertson te open.
Vandaar is hulle genader om talle oplossings veral in die mynbedryf sowel as wynkelders, die suiwelbedryf, steengroewe en in klipbrekery te bied.
“Ons vervaardig sedert 2014 spesiale verdampers, wat wissel van 11 kW tot 75 kW. Hierdie verdampers is deur ons areabestuurder, Dawid Botha, ontwerp. Die 100ste verdamper is Vrydag 2 Desember uit die werkswinkel versend. Dit word gebruik om mynsuurwater en fabrieksafvalwater te laat verdamp,” verduidelik Elizma du Plessis van Smitson Engineering aan Gazette.
Hierdie verdampers word versprei na Saoedië-Arabië, Australië, Mosambiek, Namibië en Suid-Afrika.
Na aanleiding van ’n navraag om stofbeheer by steengroewe toe te pas, het Botha begin navorsing doen om die probleem die hoof te bied en het hy hierdie verdamper ontwerp.
“Die ontwerp het ontwikkel ná navorsing van soortgelyke masjiene wat wêreldwyd gebruik word. Die invoer van die masjiene is egter baie duur en moeilik bekombaar vir die plaaslike mark. Dit het bygedrae tot die ontwikkeling van ’n Suid-Afrikaanse produk wat plaaslik – net hier in Robertson – vervaardig word.”
Tans is Smitson Engineering besig met die ontwikkeling van ’n 110 kW-verdamper, wat in 2023 vervaardig sal word. Die vervaardiging van die verdamper neem enigiets van ses tot 12 weke, afhangende van die grootte daarvan.
“Die verdamper is spesiaal ontwerp om vuil water, wat volgens die departement waterwese en bosbou se vereistes nie terug in ons land se waterstelsels kan vloei nie, te help verdamp. Hierdie verdampers is uiters geskik omdat net suiwer water verdamp kan word en alle vastestowwe en soute nie saam verdamp nie,” verduidelik du Plessis.
Die vraag wat ontstaan, is of die vaste stowwe nie blokkasies veroorsaak nie?
“Die verdampers is so ontwerp dat dit nie sensitief is vir die vastestowwe nie en geensins blokkasies kan of sal veroorsaak nie.”





