Pietman Geldenhuys (43) vier 25 jaar in die vermaaklikheidsbedryf.
Hy het as sesjarige die eerste keer as solis in die kerk gesing. Sy eerste betaalde optrede was egter in 1999 in die Hamlet-hotel in Prins Alfred’s Hamlet, waar hy gebore is.
Daarna het hy die pad na Engeland gevat, waar sy sangtalent ná twee jaar uiteindelik raakgesien is en hom sedertdien met ’n permanente plek in kroeë, restaurante en al wat watergat is, beloon het.
Sy visum het verval en hy moes terugkom, en hoewel hy gaan studeer het, kon hy nie van die verhoog af wegbly nie.
Hy beskou musiek tot vandag toe as onlosmaaklik deel van hom.
Dié Swartlander, wat nou dikwels op die kassie as aanbieder van Landbouweekliks en Oppiestoep te sien is, stel ná drie jaar van stilswye aan die musiekfront ses nuwe liedjies vry.
“Dit het omtrent ’n jaar in die bank gelê waar ek gedink het dit is nie nou die regte tyd nie of dit is nie meer relevant nie,” brei Pietman uit oor die proses waardeur sy tweede Afrikaanse album, Vaal Sand, gegaan het.
Dit was sy vrou, Arné, wat hom uiteindelik gedruk het om die liedjies bekend te stel.
“Die liedjies is deur soveel prosesse wanneer dit kom by die skryfwerk, opnames, herbedink en herbesin,” verduidelik Pietman verder.
Hy dink terug oor sy loopbaan en reflekteer oor sy suksesse, groeiprosesse en uitdagings binne die musiekbedryf. “Dit raak al hoe moeiliker. Destyds het jy jou CD’s opgeneem en by vertonings verkoop. Nou bevind ons onsself in ’n totale ander era waar jy iets opneem, dit vrystel, een persoon dit aflaai en gratis na buite versprei.” Volgens hom is digitale inhoud, vertonings en bemarking van ’n mens se werk vandag baie belangrik.
“Ek sal nooit die gevoel van jou eerste kasset of CD verkoop, vergeet nie. Nou is dit ’n geval van inhoud-vervaardiging. Jy moet deeglik bewus wees van waar die mark lê.”
Volgens Pietman het hy oor die jare geleer om hom daarvan los te maak om vir ’n spesifieke mark te skryf. Nou skryf hy waarvan hy hou of wanneer hy iets wil sê. Hy het in ’n stadium ook vir baie kunstenaars soos Bok van Blerk, Ricus Nel en vele ander liedjies geskryf. “Dan moet jou hele mindset verander.”
Pietman beskryf die mark waarvoor hy skryf, as ’n nismark wat sy inhoud eerder as kos vir die siel beskou, waarmee baie mense hulself kan vereenselwig.
Sy nuwe album, Vaal Sand, vier sy oorsprong gedurende grendeltyd vanuit die Tankwa Karoo. Die musiek gaan nie uitsluitlik oor die Karoo nie, hoewel dit die deurlopende tema is en vanwaar dit geskryf is, vertel hy verder.
Die album weerspieël sy tyd daar, “waar die vaal sand onder die oppervlak kleurvol en vol lewe is”.
“Ander idees kom weer van ander plekke en dan maak jy weer veranderinge,” glimlag hy.
Wanneer Pietman ’n liedjie begin skryf, verkies hy om dit klaar te maak. “Dan los jy dit vir ’n rukkie, soos rooiwyn wat eers ’n bietjie hout kry. Ek self besef en verstaan nie altyd waaroor dit alles gaan nie, en namate die tyd verloop, verander die betekenis daarvan ook vir my.”
Die musiek op Vaal Sand dra ’n spesiale betekenis vir Pietman. Hy is emosioneel verbind tot elke liriek – “soos ’n ouer aan ’n kind” – en hoop luisteraars sal die musiek geniet en hul eie emosionele verbintenis maak.
“Ek dink daar is iets van alles in elke liedjie waarby iemand sal dink ‘ek het dit al ervaar of beleef; dit gaan alles oor interpretasie,” meen hy.
“Elke liedjie vertel ’n storie wat op verskillende maniere deur luisteraars geïnterpreteer kan word,” brei hy verder uit.
Met hierdie album wil Pietman ’n eenvoudige boodskap oordra dat daar ongekende skoonheid in die alledaagse eenvoud is en dit verg nét kyk om dit raak te sien.
“Mesmeraai” is een van die meer opgeruimde liedjies en ’n ode aan die Karoo. Hy het baie pret gehad om dit op te neem. Vir hom is sy ’n vrou met haar leikliptong wat sy uitstoot en ondankbare mense kan pootjie. Sy kan jou los dat jy sterf in haar skoot of sy kan jou veilig op die paadjies deur haar hart lei. Dus moet mense weet waarheen hulle gaan.”
Vaal Sand is op 12 Julie vrygestel en is beskikbaar op alle digitale platforms.
Pietman, wat steeds as aanbieder op kykNET se Landbouweekliks te sien sal wees, tree eersdaags saam met Anna Davel in ’n produksie by Aardklop op. Daarna vat hy weer die pad en toer met sy musiek deur groot dele van Suid-Afrika. Inwoners kan binnekort uitsien na ’n optrede deur hom en Gian Groen op 22 Augustus by Hartklop buite Malmesbury.





