Die pad in Pietersenstraat is vol slaggate en inwoners meen hul weet nie meer aan watter kan van die pad om te ry nie. Foto’s: JP Myburg


Inwoners van Robertson en ander dorpe binne die Langebergstreek is keelvol vir die “onooglike en soms onrybare” toestand van paaie in die omgewing.

Inwoners meen hulle kom elke maand hul plig na deur hul munisipale rekeninge te betaal en voel dit moet ten minste daartoe lei dat paaie in ’n netjiese en rybare toestand is.

“Ons gesin betaal maandeliks derduisende rande aan ons rekeninge, en dan gaan ’n groot deel van ons inkomste en aankope aan belasting, maar niks word aan die paaie gedoen nie. Ek het onlangs my kar se band verloor weens ’n slaggat in die dorp en moes geld (wat ek nie het nie) uitkrap om te kompenseer vir die munisipaliteit se gebrek aan dienslewering,” verduidelik Marais Stroebel, ’n inwoner van Robertson, aan Gazette.

Stroebel het in 2019 met sy gesin van Bloemfontein na Robertson verhuis en juis gehoop dit sal ’n dorp wees waar dienslewering van ’n hoë gehalte is.

“Ons was baie optimisties om hierheen te verhuis. Ons het ’n goeie geleentheid gekry en wou ons kinders ’n beter gehalte lewe bied. Dit is hartseer dat ’n mens dan met sulke uitdagings te doen moet kry – veral as jy elke maand agteroorbuig om jou uitgawes te betaal. Dit voel kompleet of vir ons as inwoners net soms ’n middelvinger gewys word.”

Die Langeberg-munisipaliteit gee self toe dat die paaie in ’n haglike toestand is.

“Ons is bewus van die toestand van ons paaie en doen ons bes om die probleem die hoof te bied. Slaggate en die versoeke vir die herstel daarvan word aangeteken as deel van die slaggat-herstelprogram. Weens onlangse swaar reënval word die probleem bloot erger net vererger,” het die munisipale bestuurder, Anton Everson, gesê.

Nog ’n inwoner vertel hulle het die probleem al telkemale onder die munisipaliteit se aandag gebring het, maar nooit terugvoer ontvang nie.

“ ’n Mens sal nooit weet wat gaan vir wat nie. Hulle is bewus van die probleem en dit word aangeteken, maar aksie sien ons nooit nie; antwoorde hoor ons glad nie. Ek woon al langer as 10 jaar in Pietersenstraat, en dit is in ’n toestand. ’n Mens kan dit nie toeskryf aan swaar reënval nie, want dan beteken dit mos net die dorp se stormwaterdreinering is nie op standaard nie,” se Mario Maarman.

Everson meen egter vordering word in hierdie verband gemaak.

“Die Langeberg-munisipaliteit is besig om ’n tender uit te reik om verskeie strate in die area te herseël. Intussen word die slaggate so vinnig as moontlik met die hulpbronne tot ons beskikking herstel. Pietersenstraat sal in die volgende week aandag geniet.”

Sake-eienaars wat verkies om anoniem te bly, is ook ontsteld oor die toestand van basiese dienste in die nywerheidsgebied en meen hul klagtes val soms op dowe ore.

“Klagtes met betrekking tot paaie word in ons herstelprogram aangeteken. Ons doen dus ’n beroep op die gemeenskap om voort te gaan om klagtes oor slaggate, ongelyke padoppervlaktes en beskadigde sypaadjies en/of padtekens aan te meld,” het Everson gesê.. Kontak die inbelsentrum by 0860 88 111, stuur ’n WhatsApp-boodskap na 065 211 7822 of stuur e-pos na info@langeberg.gov.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article