Robertson-inwoners se bewoënheid en moedeloosheid oor die haglike toestand van die paaie duur steeds voort.
Gazette berig al vir jare oor die kommerwekkende toestand van die paaie in die Langebergstreek. Talle inwoners kla gedurig, veral oor hoeveel geld hulle op nuwe bande vir hul voertuie moet uitgee, asook op ander skade wat deur die slaggate veroorsaak word.
Volgens die Langeberg-munisipaliteit maak hulle deurlopend slaggate reg en maak gebruik van ’n program wat prioriteit-paaie in al vyf dorpe uitwys.
“Enige nuwe klagtes wat ontvang word, word ook by die program gevoeg vir vinnige oplossing om die huidige toestand van die paaie in Robertson, Ashton, Bonnievale en Montagu aan te spreek.
“Daar word beraam dat die tender (vir die herstel van paaie), waarvoor aansoeke op 24 Maart gesluit het, in Mei aan ’n diensverskaffer toegeken sal word,” verduidelik Daniel Lubbe, die Langeberg-munisipaliteit se nuwe munisipale bestuurder.
Hy sê egter dat dit nie moontlik sal wees om onmiddellik al die paaie reg te maak nie.
“Alhoewel dit nie moontlik sal wees om alle paaie onmiddellik weer reg te maak nie, is ons daartoe verbind om voortdurend ons paaie in stand te hou en spesifiek die kwessie van slaggate aan te spreek.”
Een inwoner wat se voertuig se wiel so erg deur een van die talle slaggate beskadig is, meen hy is nie ongelukkig met die munisipaliteit in geheel nie, maar wel oor hoe hulle die slaggate hanteer. Sy een motorband is onlangs vernietig en twee van sy voertuig se skokbrekers is ook beskadig.
“Ná verlede week se harde reën is meeste van die slaggate weer oop en dit lyk nou erger as voorheen.
“Ek het ’n probleem met hoe die munisipaliteit dit toemaak en bewerk. Ek verstaan hoe die slaggate toegemaak word en wanneer dit reën, is dit nog erger en daar is sommer ook dan meer slaggate as voorheen.”
Hy sê ook die slaggate skep ’n chaotiese ervaring vir padgebruikers.
“Veral omdat net sekere dele van die dorp se slaggate heeltemal reggemaak word en instandgehou word. Sommige mense het al begin om die slaggate met sand toe te maak net sodat mense maklik in dié paaie kan ry, maar natuurlik help dit net totdat dit weer deur die reën weggespoel word.”
Die swaar reën van verlede Donderdag het oor die Langeberg heen amok gemaak met verskeie paaie in die dorpe wat oorspoel het.
“Weens die omvang van die oorstromings sal ’n volledige bepaling van die skade in die munisipale gebied eers binne die volgende week moontlik wees,” sê Lubbe.
Die munisipaliteit is ook besig met die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan-proses (GOP), wat die begroting vir die volgende finansiële jaar bepaal.
Voorsiening is gemaak vir pad-rehabilitasie in die volgende siklus van die GOP-proses.
. Die munisipaliteit vra dat inwoners slaggate rapporteer by 086 088 1111, of ’n WhatsApp-boodskap te stuur na 065 211 7822 of ’n e-pos na info@langeberg.gov.za





