Die departement van korrektiewe dienste het Donderdag (20 Junie) bevestig dat Marius van der Westhuizen, wat sy drie kinders op 28 Julie 2006 in hul beddens doodgeskiet het, parool toegestaan is.
Van der Westhuizen, ’n voormalige superintendent in die polisie, het Dinsdag (18 Junie) ’n derde keer voor die korrektiewe toesig-en-paroolraad by die Malmesbury-gevangenis verskyn.
Sy eerste aansoek om parool is in Desember 2022 voor die raad gebring, terwyl hy in Desember verlede jaar weer aansoek om parool gedoen het.
Pleidooi
Sy gewese vrou, Charlotte van der Westhuizen, het in November 2023 met ’n pleidooi na sosiale media vir ondersteuning gedraai in ’n poging om die raad te oortuig dat parool nie toegestaan kan word nie.
Volgens die departement het die paroolraad besluit om hom van 31 Julie vanjaar tot September 2034 op parool te plaas.
Van der Westhuizen is in 2011 op drie aanklagte van moord op sy gewese vrou se kind Bianca (16) en hul eie twee kinders, Marius Eben (5) en Antoinette (21 maande) tot 24 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die voorval het in hul huis in Brackenfell gebeur toe hy sy dienspistool gebruik het om die drie minderjarige kinders in hul slaap te skiet.
Volgens die DKD se verklaring voldoen die besluit aan artikel 73 van die wet op korrektiewe dienste rakende die minimumvonnistydperk wat uitgedien moet word voordat parool oorweeg mag word.
‘Verantwoordelikheid aanvaar’
Die DKD is van mening dat Van der Westhuizen verantwoordelikheid vir sy misdade aanvaar het. Hy het ook volgens die verklaring aan terapeutiese en ander vorme van rehabiliterende ingryping deelgeneem.
Die slagoffers se naasbestaandes, insluitend hul ma, het die paroolverhoor bygewoon en is later van die besluit in kennis gestel.
Van der Westhuizen sal voor sy amptelike parooldatum aan verskeie programme ter voorbereiding van sy vrylating deelneem.
Sy amptelike vonnis eindig eers in 2034; daarom sal Van der Westhuizen vir die res van sy vonnis onder gemeenskapskorreksie-toesig wees en sal volgens sy paroolvoorwaardes gemonitor word.
Die departement het nie gereageer oor of Van der Westhuizen binne die plaaslike gemeenskap van Malmesbury onder toesig sal wees nie.



