’n 42-jaige man van Ashton is onlangs weens die vermoedelike verkragting van sy negejarige seun in hegtenis geneem.
Volgens die seun se ma vermoed sy dit het ’n paar jaar gelede gebeur.
“Daar was ’n tyd wat ek so drie jaar gelede vir ’n paar maande in die hospitaal was. Ek vermoed dis wanneer dit begin gebeur het.”
Die seuntjie het egter vir sy tannie, sy ma se suster, vertel wat met hom gebeur het.
“Hy het ’n probleem ontwikkel, waar hy gereeld sy broek vuilgemaak het. Hy het dit nie opsetlik gedoen nie, want dit het sommer gebeur terwyl hy nog op pad was toilet toe. Hy het nooit vir my gesê wat die oorsaak was nie. Selfs die skool was bekommerd,” vertel sy ma.
Verlede week, na nog ’n ongelukkie, het hy sy tannie vertel.
“Hy was haastig op pad toilet toe, maar was weer eens te laat. Toe vra ek hom hoekom gebeur dit dan aanmekaar. Toe sê hy: ‘Dis my pa, hy het hier agter gekrap.’ Ek het toe die welsyn en die polisie gekontak,” verduidelik die seun se tannie.
Hy is by die hospitaal ondersoek en sy bewering is deur ’n dokter bevestig.
Sy pa is ’n dag later in hegtenis geneem.
Die seun se ma beweer dat haar man haar ook mishandel het.
“Hy het my ook vir ’n lang tyd mishandel. Ek het net nooit geweet wat hy aan my kind doen nie. My oudste dogter, wat 16 is, het ook weggetrek van ons af omdat hy haar ook mishandel het. Ek het altyd gewonder hoekom my twee seuns, die negejarige en sy 12-jarige broer, bang was vir hulle pa. Hy het die 12-jarige geslaan. Ons is egter nou al ’n jaar en ’n half uitmekaar uit. Hy bly by sy nuwe vrou. Persoonlik voel ek hy is hond om dit aan my kinders te gedoen het. Vir my part kan hy maar doodgaan.”
Hoewel hierdie omstandighede moeilik is vir haar, gaan sy aan met haar lewe.
“Die welsyn het gevoel my kinders sal veiliger wees by my suster. Ek gaan kuier elke dag vir hulle. Dit begin nou beter gaan met my seuntjie; hy het lanklaas sy broek vuilgemaak. Soms voel ek skuldig oor wat gebeur het. Ek het nooit enige snaakse houdings van my seun af opgemerk nie. Maar ek is omring deur mense wat omgee vir my – mense wat my bemoedig.”
Die 42-jarige man het Maandag die tweede keer in die hof verskyn.




