MONTAGU – Die lewens van ’n pa en sy seun is op die mees tragiese wyse denkbaar kortgeknip toe hul huis aan die brand geslaan en hulle saam in ’n see van vlamme omgekom het.
Johan Liebenberg (51), ’n motorwerktuigkundige in diens van die Langeberg-munisipaliteit en sy 15-jarige seun, ook Johan, is verlede Woensdagaand 21 September in hul woning in Le Rouxstraat dood toe hul huis deur vlamme verswelg is.
Na verneem word was Liebenberg en sy seun alleen tuis toe die brand omstreeks 23:38 uitgebreek het.
Die vlamme het glo vinnig deur die huis, met diefwering voor al die vensters en veiligheidshekke by die ingangsdeure, versprei.
Die veiligheidshekke was gesluit en vermoedelik kon Johan (snr) in sy paniekbevange geskarrel nie die sleutels raakvat nie. Die allesverterende vlamme het hulle in die huis vasgekeer.
Omstanders wat op die toneel was, maar verkies om nie hul name te noem nie, sê hulle het die angsbevange hulpkrete van die pa en seun duidelik gehoor.
Omstanders, die bure asook polisiebeamptes het tevergeefs probeer om die vlamme met water te blus. Pogings om die veiligheidshekke oop te breek, het ook gefaal en die oorweldigende hitte van die vlamme en digte rookwalms het alle reddingspogings bemoeilik.
Die brandweer, wat later opgedaag het, het uiteindelik die vlamme geblus, maar die huis was toe reeds afgebrand.
Johan se moeder, Ria, was steeds baie geskok en hartseer tydens Gazette se besoek.
Sy het baie hartseer gesê die polisie ondersoek die voorval en sy wil nie veel sê nie. Sy het wel te kenne gegee dat sy bereid is om op ’n latere tydstip met die media te praat.
“Gee so ’n bietjie kans, asseblief. Dinge is op die oomblik ’n bietjie deurmekaar,” het sy met trane in die oë gesê.
Die erg verbrande liggame van die oorledenes is na verneem word by mekaar in die huis gevind.
Volgens die plaaslike polisie is dit onbekend waar in die huis en presies hoe die brand ontstaan het. Die oorsaak word ondersoek.
Johan jr., wat geskei is, word oorleef deur sy ma asook sy dogter, Carli, wat by haar ma, Chrizelle, in George woon.





