Die ouers van ’n 10-maande-oue baba wat in ’n emmer verdrink het, is nou keelvol vir stories en verkeerde inligting wat deur mense en ’n poniekoerant versprei word.
“Ons harte is nog so seer. Mense sê ons was dronk of nalatig. Dit is nie so nie. Ons het nog drie ander kinders en hulle word goed versorg en na omgesien en doen goed in hul skoolwerk,” verduidelik David Oosthuizen, Desmolien-Lee se pa.
Volgens Oosthuizen is deel van hom en sy dogtertjie se ma, Lee-Anne Evertson, se misnoeë die feit dat ’n ander publikasie glo verkeerde inligting gepubliseer het.
“Hulle het sommer goed in die berig gesit wat ons nie vir hulle gesê het nie. Ons baba is nog nie eens lank oorlede nie – sy was nog nie eens onder die grond nie – toe maatskaplike werkers kom rondsnuffel het nie,” het ’n baie omgekrapte Oosthuizen aan Gazette verduidelik.
Oor die voorval wat sy dogtertjie se lewe geëis het, vertel hy: “Ons het Sondag (30 Julie) net na 23:00 gaan lê. My vrou het toe nog my dogter gevoer. Sy het gewoonlik tussen ons op die bed geslaap, en het altyd opgekruip na die kussings of om bo-op my vrou se bors te slaap. Maar lyk my daai spesifieke aand het sy verkeerde kant toe gekruip en in die emmer beland. Toe ek die Maandagoggend opstaan vir werk, om 05:45, het ek vir my vrou gesê om te kyk of die baba toe is. Sy het op die bed rondgevoel en nie vir Desmolien-Lee gekry nie. Toe ek om die bed stap, het ek haar in die emmer gesien,” verduidelik Oosthuizen.
Oosthuizen het oor en oor gevra dat mense in die gemeenskap nie die liegstories moet glo of oor die voorval moet spekuleer nie.
“Ek en my vrou voel baie sleg oor al die leuens wat oor ons versprei word. Ons was nog nooit nalatig teenoor enige van ons kinders nie. Ons baba is maar nou twee dae gelede eers begrawe, en ons wil graag in vrede deur die proses van rou werk.”





