Die Ruiters-familie het al hul besittings in ’n brand verloor. Foto:


’n Familie van Droëheuwel, Robertson, het verlede week al hul besitting in ’n verwoestende brand verloor.

Johnothan Ruiters, sy twee dogters en twee kleinkinders, spook nou om hul huis en hul lewe te herbou.

Die brand het Maandag 29 Augustus om 17:00 by hul huis in Peperbosstraat uitgebreek.

“Ek het Maandag net voor 12:00 van nagskof af gekom. Ek het toe besluit om my twee kleinkinders by hul skooltjie te gaan haal. Ons is toe huis toe, waar ek vir hulle iets te ete warm gemaak het, en hulle het gaan speel. Ek het ’n bietjie gaan lê,” sê Ruiters.

Verder verduidelik hy het iets hom omstreeks 17:00 wakker gemaak.

“Toe ek wakker skrik, het ek net rook voor my gesien. Ek hoor toe hoe die balke in die dak raas en het van die bed af gerol. Net toe ek op die vloer beland het, het die dak op my bed ineengestort.”

Hy het toe sukkel-sukkel deur die rook gekruip om sy twee kleinkinders te soek.

“Ek het net gehoor hoe hulle skreeu en hul stemme gevolg en hulle al twee op die bank in die voorkamer gekry. Ek wou hulle so vinnig as moontlik uitkry, maar die rook was so dig ek kon nie reg voor my sien nie en ek was baie verward. Dus het ek verby die voordeur gehardloop na ’n venster toe, maar besef die venster het diefwering op, en ek het omgedraai.”

Die rook was te veel vir Ruiters en hy het op die vloer met sy kleinkinders platgeval.

“My longe was vol rook en dit was moeilik om asem te kry, maar ek het vir myself gesê ek wil nie vandag hier met my kleinkinders doodgaan nie. Dit was asof ek skielik weer krag gekry het om op te staan. Met dit het ek gehoor iemand probeer die voordeur van buite oopskop,” onthou Ruiters.

Sy bure het daarin geslaag om die deur oop te kry.

“Ek het buite op die grond geval en gedink my kleinkinders is steeds binne die brandende gebou. Ek het opgestaan en ingehardloop om hulle te soek, en met dit het my baadjie vlamgevat en ek het op die grond geval om die vlamme te blus. Gelukkig was die tweetjies toe reeds buite.”

Ruiters vermoed die brand het as gevolg van ’n kortsluiting ontstaan.

“Ons krag het Maandag vinnig afgeslaan en toe weer aan. Volgens die bure het hulle die rook sien trek net nadat die krag weer aangegaan het.”

Hy sê die hele ervaring was vir hom en sy gesin baie emosioneel.

“Gelukkig kry ons baie ondersteuning van die res van ons familie af. Dit was nogal hartverskeurend om te sien hoe die laaste vyftien jaar van opbou so deur die vlamme vernietig word. Ek het die huis vyftien jaar gelede gekoop. Alles wat ons die laaste vyftien jaar gekoop en aangebou het, is nou weg. Ek het hard gewerk daarvoor.”

Ruiters is tans besig om ’n tydelike struktuur op sy erf te bou sodat hulle as familie darem weer ’n veilige heenkome kan hê.. Enigeen wat Ruiters en sy gesin kan help deur middel van klere of huishoudelike skenkings, kan hom by 073 267 5795 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article