Medelye en soet herinneringe het ingestroom nadat die nuus oor Valery Mcquire (63), ’n voormalige raadslid van die Swartland-munisipaliteit, se skielike dood onder lede van die plaaslike gemeenskap wat sy gedien het, bekend geword het.
Oudraadslid Mcquire het van 1995 tot 2000 as ’n lid van die destydse Malmesbury- munisipale raad gedien. Daarna het sy weer as ’n raadslid vir die Swartland-munisipaliteit van 2016 tot 2021 opgetree, asook vir die Weskus-distriksmunisipaliteit.
“Sy het haar gemeenskap deur die jare met groot toewyding gedien. Haar passie en toewyding vir ander sal gemis word. Ons medelye aan haar familie en vriende gedurende hierdie moeilike tyd,” het die Swartland-munisipaliteit op sy Facebook-blad geskryf.
Anet de Beer, onderburgemeester van die Swartland-munisipaliteit, het namens raadslede wat saam met Mcquire gedien het, vertel hoe sy onthou sal word vir haar passie en veggees vir geregtigheid.
“Mcquire sal onthou word as ’n regte vuurvreter wat opgestaan het vir geregtigheid en baklei het vir haar gemeenskap. Sy was ’n ware kampvegter.”
De Beer het bygevoeg dat Mcquire nie toegelaat het dat enigiets in haar pad staan nie en geglo het in dit wat reg is. Haar aansteeklike lag en kuiltjies sal hulle ook altyd bybly.
“Sy het geleef vir haar twee seuns en kleinkinders,” het De Beer bygevoeg.
Mcquire het destyds in die onderwys ook as onderwyseres gedien. Oudleerders het met skok gereageer toe hulle van haar afsterwe hoor. Sy is op sosiale media herhaaldelik as hul gunstelingjuffrou beskryf.


