Vian Steenkamp van Malmesbury is in die Springbokke se Gazelle-toutrekspan, die Blou-manspan, opgeneem.
Swartland Gazette het verlede jaar oor Vian berig toe hierdie graad 11-leerder van die Hoërskool Swartland in Malmesbury in die Gazelle-manspan se Geelspan opgeneem is. Hy het verlede September as lid van hierdie span in Maleisië deelgeneem.
Vian, wat reeds van verlede jaar af in die afdeling vir mans o.23 oefen, reis vier middae per week Strand toe vir harde oefeninge wat twee ure per middag duur. Die afgelope klompie naweke is afgestaan aan klub- en streekskompetisies, soos die vorige naweek se WP-kampioenskap in Moorreesburg, waar Vian drie medaljes ingeoes het.
Voordat hulle na die Afrika-spele vertrek, wag daar ook nog WP- en SA klubkampioenskappe. Eers hierna volg die Afrika-toutrekkampioenskap naby die Victoria-waterval.
Die byeenkoms duur van 20 tot 24 Junie.
Die organiseerders verwag sewe Afrika-lande en 30 Zimbabwiese klubs by hierdie byeenkoms.
Die bestuurder, Werner Kleynhans, sê hierdie span het ’n besonder positiewe houding. “As die houding reg is, kan ’n mens ver kom. Ek is seker daarvan dat ons Blouspan ’n goeie ‘oorlog’ sal kan voer!” het Kleynhans gesê.
Vian sê tegniek en krag is belangriker as gewig. “Dis waarom ons elke jaar van Januarie tot September oefen, oefen, oefen,” het hy verlede jaar al verduidelik.
Vian word dikwels ingespan om voor te trek omdat hy die vermoë het om opposisiespanne se beoogde planne vinnig te lees. Dan gee hy dadelik die teken vir die res van sy span aan sodat hulle hul teenstanders se taktiek kan teenwerk.
Tog het hy die vermoë om op enige posisie in die span te trek. “Hy ‘vat anker’ (is gemaklik agter), tog kan hy orals in die span sy kant bring,” verduidelik sy pa, Michiel Steenkamp. “Hy sal by die Afrika-byeenkoms in die afdelings vir 640 kg, 580 kg (gemeng) en 720 kg deelneem.”
Die organiseerders het die program só beplan dat die trekkers tyd sal hê om die Victoria-valle en Chobe Nasionale Park te besoek.
Oor al die uitgawes wat Vian se betrokkenheid by toutrek meebring, sê Michiel skenkers is gewis welkom en sê veral sy werkgewer Provincial Logistics, ondersteun hulle uitsonderlik.





