Swartland Gazette se nuwe verslaggewer, Anan Jacobs.Foto: Ron Sibiya/Rekord


SWARTLAND – Dit was sy Afrikaans-onderwyser wat ’n liefde vir skryf by hom gekweek het, maar dit was sy bekende oom in wie se voetspore hy uiteindelik wou volg.

Só vertel die 24-jarige Anan Benjamin Jacobs, of AB, wat hom op 1 Julie as verslaggewer by Swartland Gazette aangesluit het.

Anan het sy kinderjare in Uitenhage in die Oos-Kaap deurgebring voordat hy in 2012 saam met sy gesin na Pretoria verhuis het, waar hy sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd, deesdae Hoërskool Rietondale, begin het.

Hy praat met lof van die skool, wat hy glo gehelp het om hom te vorm in die mens wat hy vandag is – iemand wat volhard en oorwin.

Hoewel hy aanvanklik nie van skryf gehou het nie, het sy Afrikaans-onderwyser, Derik Schnetler, op sy talent vir opstelle en gedigte gelet en hom bemoedig om sy verbeelding in te span om stories te vertel.

“My vriende het altyd my hulp gevra om hul praatjies [mondelinge] te skryf, maar hulle het meer punte gekry as ek,” skerts hy.

Hy het in sy matriekjaar – 2016 – op joernalistiek besluit toe universiteite die skool besoek het. Hy het vir ’n diploma in joernalistiek aan die Rosebank-kollege ingeskryf, wat hy in 2019 verwerf het.

Sy joernalistieke loopbaan het reeds in 2018 begin toe hy as intern-joernalis by die Rekord in Pretoria gewerk het. Hy het hom later tot ’n permanente aanstelling as junior joernalis en fotograaf opgewerk voordat hy in 2020 ’n geleentheid by ’n ander publikasie, Laudium Sun, ook in Pretoria, aangegryp het. Hier het hy ’n jaar as joernalis gewerk voordat hy vir loopbaangeleenthede terug Oos-Kaap toe is.

Hoewel sy skool ’n groot rol in sy besluit gespeel het om ’n loopbaan as joernalis na te streef, wou hy altyd soos sy oom, JP Keyter, aanbieder van Landbou Weekliks op kykNET, wees, wat sy belangstelling verder geprikkel het. Dit was ook Keyter wat hom van Media24 en die geleenthede wat hulle aan jong joernaliste bied, vertel het.

Hy het dus die kans aangegryp toe ’n betrekking vir ’n pos by Swartland Gazette geadverteer is. Ná ’n lang proses is Jacobs as die suksesvolle kandidaat gekies en het hy die lang pad na die Swartland aangedurf.

Hy sien uit om oor plaaslike kwessies, wat die gemeenskap raak, te skryf.

Hy sien ook daarna uit om die Kaap te verken.

“Die Kaap is uniek. Een van die redes daarvoor is die verskillende strande wat hier is.”

Landbou, die ontwikkeling van nuwe infrastruktuur en koeksisters is net van die trekpleisters wat hom tot die Wes-Kaap aangetrek het. Om die eerste keer Tafelberg van naby te aanskou, was ook ’n besonderse ervaring.

“Ek is die soort mens wat daarvan hou om verskillende plekke te besoek. Ek gaan baie winkelsentrums toe en ek geniet die natuur, maar die belangrikste van alles, ek is ’n Godsdienstige mens. Alles wat ek doen en die soort mens wat ek vandag is, kom van die Here af.”

In sy vrye tyd geniet hy lees, Netflix, fietsry, swem en om potjiekos te maak.. Lesers kan hom by anan.jacobs@media24.com kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article