Speurders verbonde aan die Parow-polisie is op soek na moontlike ooggetuies van ’n motorongeluk verlede week op die hoek van Fransie van Zyl-rylaan en De La Rey-weg in Parowvallei.
Die ongeluk, waarby drie voertuie betrokke was, het op Dinsdag 26 September om 18:05 plaasgevind.
Kapt. Kevin Williams, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Drie voertuie was betrokke – ’n silwerkleurige Suzuki (CAA 139 913), ’n wit Toyota Quantum-minibus (CA 759 295) en ’n silwerkleurige Suzuki (CF 180 135).
“Daar word beweer die voertuie het by bogenoemde kruising gebots. Die bestuurder van die Suzuki A1 is op die toneel dood verklaar,” sê Williams.
Ettiene du Preez, streek- operasionele bestuurder van die ambulansdiens Life EMS, het die dag, tyd en die aantal voertuie wat by die ongeluk betrokke was, bevestig. Hy sê twee mense is lig beseer en dat een op die toneel dood is. Die polisie ondersoek die voorval, sê Du Preez.
Hy voeg by: “Weens die aard van die voorval kan ons ongelukkig nie verdere inligting verskaf nie.”
Die polisie versoek enigiemand wat die voorval sien gebeur het, om hulle te kontak en ’n verklaring af te lê om met die ondersoek te help. Die saak word deur AO Eugene Human ondersoek.
Skakel 021 992 9710 met inligting.




