Plaaslike lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) by Stasie 34 in Yzerfontein het die afgelope Donderdagmiddag op ’n verdrinkingsvoorval reageer.
Die NSRI is omstreeks 18:25 in kennis gestel van ’n voorval waar ’n duiker naby Schaapeiland betrokke was.
Volgens die NSRI is hulle ontbied nadat ’n plaaslike duiker alarm gemaak het toe ’n mede-duiker, ’n 60-jarige man, naby die eiland naby Yzerfontein se kusgebied onder die water verdwyn het. Volgens inligting het die duikers vir ontspanning gaan duik toe een van hulle in die moeilikheid beland het.
Die plaaslike polisie, lede van die Darling-plaaswag en die buurtwag van Yzerfontein is ontbied om met die soektog te help. Volgens Craig Lambinon, ’n woordvoerder van die NSRI, het die vermiste duiker se familie op daardie tydstip ook met die soektog gehelp. Die man se liggaam is egter na ’n geruime tyd op die rotse naby die omgewing waar hy onder die water verdwyn het, opgespoor.
Die oorledene se liggaam is vir ’n lykskouing aan die staat se forensiese patologiedienste oorhandig. Die polisie het ook ’n geregterlike doodsondersoek geopen.
“Die NSRI betuig sy innige medelye met die slagoffer se familie.” . Die NSRI is in nóg ’n voorval vroeër verlede week op 27 September ontbied nadat ’n visserman vermoedelik deur die vin van ’n walvis getref is.
Die 38-jarige man het by Dasseneiland uit ’n vissersboot visgevang toe hy getref is.
Hy is deur mediese personeel by die plaaslike reddingstasie bygestaan en behandel voordat hy vir verdere behandeling deur ’n ambulans na die naaste hospitaal geneem is.
Volgens Helene van Zyl van die NSRI is sy toestand bestendig.





