Onlangs bel ek die toerismekantoor van ’n Klein Karoo-dorpie. Die beampte verstaan nie my navraag nie en reageer met ‘Kom weer’? Ek skrik my woorde wég – wanneer het professionele gesprekvoering sommer-so verdwyn?
Verlede week laat die vreeslike monoloog van die meisie agter die kasregister van ’n winkel in ons hoofstraat my kop draai. Om een of ander vreemde rede wou sy graag vir my vertel dat sy nie middae ná werk kan rus nie, want haar ma roep haar pal met take, veral “om die hondek@@ te gaan optel”.
Vyf minute in ’n winkel en dis die kaliber gesprekke wat ’n mens deesdae moet aanhoor?
Ek moes al tillmeisies in ’n koswinkel vermaan om mekaar eerder later dood te maak – verkieslik nádat hulle my gehelp het (hulle het gedreig om mekaar ‘te lém’). En ek wonder: Wat het van opleiding en evaluering van goeie dienslewering geword? Is ons finaal oorgelewer aan die verswakking van die etiese norme wat deesdae om ons woed?
Onlangs sê ’n koerantberig: “Matie-tokkelokke laat meisies gril”. Ek lees hoe die andersins-gerespekteerde joernalis sy artikel grond op hoorsê nadat ’n klomp meisies in klastyd ‘afgepak het’ oor enkele mans. Die skrywer was nie eens teenwoordig nie – maar skinderstories via ’n middelganger beland woerts as veralgemening op bladsy 2 van ’n prominente nuusblad. Red nou ’n nasie!
Dan praat ons nie eens van Stellenbosch se Wilgenhofdebakel nie.
Internetbronne wys hoeveel tyd en energie bestee word om te verklaar waarom IK-tellings deesdae afneem, teenoor die vorige eeu se stygende intelligensiekwosiënt.
“Our IQ levels are falling, and no-one knows why”, sê die skrywer Luke Kemp in ’n BBC Future-artikel. Kemp verwys na die historikus Arnold Toynbee se “historiese outopsie” van 28 indrukwekkende samelewings wat verval het: Great civilisations are not murdered. Instead, they take their own lives.
“In sekere opsigte was Toynbee reg,” skryf Kemp. “Samelewings is dikwels verantwoordelik vir hul eie agteruitgang. Maar gereeld ondersteun buite-faktore hierdie selfvernietiging (self-destruction is usually assisted).”
Hy verwys dan na swak leierskap, dalende waardes en drastiese klimaatsverandering as gemene delers in die verval van voorheen suksesvolle samelewings.
Dan tuimel intelligente denke en onderhandelingsvermoë oor die afgrond weens swak konsentrasievermoë en gebrekkige selfdissipline.
Dalk het ons nog ’n effense keuse; veral as ons toesien dat diegene in ons onmiddellike omgewing aan die lees en dink bly. Maar ons moet vinnig spring, voordat daar net enkele oppervlakkige woorde soos k@@ en fo@ en “so what” soos verlore herfsblare deur amper leë koppe dwarrel.
Dalk is daar nog hoop as werkgewers vasbyt en gereeld hul personeel verskerp – of ten minste begin om personeel met beter vermoëns aan te stel.
Anders word die oorlede geskiedskrywer Dan Sleigh se woorde bewaarheid toe hy kort voor Covid-19 verwys het na “die veronnoseliking van die samelewing”.





