John Dürr, voorsitter van die Skaapstudiegroep van Agri Malmesbury bedank RSG-omroeper Martelize Brink vir haar teenwoordigheid. Foto: Charlotte Lesch


’n Bekende stem in talle huishoudings en in dié van hul voertuie is die afgelope Dinsdagaand gedurende Agri Malmesbury se jaarlikse algemene ledevergadering aangehoor toe ’n gewilde RSG-omroeper gaste aangemoedig het om hul stories te deel.

Martelize Brink, ’n omroeper van Oggend op RSG en Driesestig, het landbouprodusente herinner dat hul rol in die samelewing onderskat word te midde van die onthulling van Shoprite se onlangse voedselindeks dat 49% van die Suid-Afrikaanse bevolking teen 2025 honger sal gaan slaap. Sy het klem gelê op die land se landbouprodusente wat die vermoë het om die uitdagings waarmee hulle daagliks te doen kry, met sukses aan te pak – ongeag ’n gebrek aan ondersteuning teenoor ’n land soos Frankryk, waar produsente tot 40% deur hul regering gesubsidieer word. “Dit wys julle net wat julle in Suid-Afrika regkry in vergelyking met wat vir julle in terme van ondersteuning gegee word.” Sy het produsente bedank en bevestig dat landboukwessies RSG baie na aan die hart lê en uitgebrei oor hoe gewild boeresake in die media geraak het.

“Ons as RSG dra ’n belangrike verantwoordelikheid om die korrekte inligting aan luisteraars deur te gee, maar ook om die mens self en so korrek as moontlik aan luisteraars deur te gee. Ons vertel almal se stories – nie net Afrikaanssprekendes s’n nie.”

Volgens haar is die konteks waarin ’n woord soos byvoorbeeld “boer” gebruik word, baie belangrik. Wanneer die woord “boer” as negatief gebruik word, kan dit verwys na baie dinge, maar wanneer dit positief gebruik word, verwys dit slegs na diegene wat kos op die tafel sit, verduidelik sy. “Die woord ‘boer’ het in sekere kulture ’n vloekwoord geword. Die verbetering van die beeld van landbou en die woord ‘boer’ is dus baie belangrik.”

Sy meen landbouprodusente het ook die mag om ander se siening oor hulle te verander deur hul stories te vertel.

“Ons is daar om jou storie te vertel; om die sienings oor die woord ‘boer’, wat juis negatief is, en die mens wat boer, te verander. Deel die positiewe stories. Hoe wil jy jouself uitdruk en hoe wil jy gesien wees? Hoe die buitewêreld jou sien, word eintlik deur jouself bepaal. Dis nie maklik nie; jy draai nie iemand se sienings oornag om nie.”

Sy het afgesluit deur produsente te bedank. “Julle het ’n geweldige verantwoordelikheid op jul skouers. Dankie vir wat julle doen. Ons weet julle is onder geweldige druk en dit gaan nie ongesiens verby nie. Ons sien dit raak en ons is daar om daardie stories uit te saai.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article