Skaars ’n jaar sedert die ontstaan van die Abbotsdale-netbalklub is hy die afgelope naweek as die Weskus Twizza-kampioen gekroon.
Die Weskus-Twizza-kompetisie is Saterdag (1 Julie) beslis en verskeie Weskus-klubs het deelgeneem.
Die kompetisie is vroeër deur Netbal Suid-Afrika ingestel om ontwikkelende netbalspanne die geleentheid te bied om hul slag op die netbalbaan te wys en is ’n nasionale kompetisie.
Vanjaar was dit egter die nuweling, Abbotsdale, wat opslae gemaak het deur nie net sy pad na die eindronde te vind nie, maar ook ’n kompetisiegunsteling en voormalige kampioen, die Malmesbury-netbalklub, met ’n stewige 25-18 te troef.
Malmesbury-netbalklub was dus die naaswenners met Angels (ook Malmesbury) derde. Abbotsdale sowel as Malmesbury dring nou deur na die Wes-Kaap-Twizza-kompetisie later vanjaar.
Brittanéé Appollus, die klub se voorsitter en self ’n kranige netbalspeler, sê sy is baie trots op wat die meisies in só kort tydjie vermag het.
“Ons het ’n 90%-wenpersentasie nadat ons net twee wedstryde verloor het – een vriendskaplik en een liga-wedstryd. Daarby is vier van ons spelers na afloop van proewe in die Weskus-oefengroep ingesluit.”
Die spelers sluit in Appollus, Gayline Koopman, Lucille Boks en Nicole Alexander.
“Ek is baie trots op die meisies. Baie van hulle kom uit poverty-stricken omstandighede en probeer die beste van die situasie maak. Soms het ons nie eens genoeg netbalrokkies vir almal nie en moet ons halftyd ruil. Ons benodig dus ekstra klere en skenkings sodat ons aktiwiteite in Abbotsdale aan die lewe kan hou en veral die jong meisies weg van die slegte elemente in die gemeenskap kan hou, soos dwelms en bendebedrywighede.”
Oor hul oorwinning in die eindronde van die Weskus-Twizza-kompetisie sê Appollus sy het na afloop van die halfeindronde, wat volgens haar die harder stryd van die twee was, aan die span gesê hulle moet net by die basiese hou, kalm bly en mekaar vertrou. Dit was op die ou einde hul wenresep.
Appollus is op haar beurt aangewys as beste doel van die toernooi asook speler van die toernooi, terwyl Boks as die binnebaanspeler gekroon is.
Melissa Esterhuizen van Citrusdal is as die beste verdediger aangewys.. Mense wat die klub wil ondersteun, kan Appollus by 067 294 7308 bel.





