Hoërskool Swartland op Malmesbury het sedert die begin van die nuwe skooljaar drie nuwe aanstellings gemaak wat die personeel behoorlik aan die brand het soos hul passies, doelwitte en drome vir die skool en vir sy leerders gedeel word.

Marizaan Barnard het April vanjaar haar pos as die nuwe fisiese- en natuurwetenskappe-onderwyseres betree en sy is nog nie vir een oomblik spyt daaroor nie. Sy geniet nie net die omgewing waarin sy haarself bevind nie, maar ook die daaglikse interaksie met haar leerders en mede-onderwysers.

Barnard (34) is ’n boorling van Malmesbury wat haar 16 jaar later weer in die gange van haar eie hoërskool bevind. Dit is vir haar lekker om terug op eie bodem te wees. “Dit is vir my ’n groot voorreg en met trots dat ek weer in dieselfde gange kan beweeg en om van my onderwysers en ander oudleerders as kollegas te kan hê,” vertel sy opgewonde.

Barnard gee vir die Graad 9-leerders natuur wetenskap en vir die Graad 10 en 11-leerders fisiese wetenskap.

Volgens haar het sy juis die loopbaankeuse geneem weens haar passie en liefde vir die vak wetenskap, maar ook om vir ander te leer. “Ek hou daarvan om vir iemand iets te kan leer, te verduidelik of te help verstaan,” brei sy uit. Die geleentheid het volgens Barnard op die regte tyd oor haar pad gekom en sy was in die gelukkige posisie om daarvoor aansoek te kon doen.

Barnard vertel verder oor die vak wat sy gee en sê sy geniet die wetenskap baie. “Dit is interessant en so deel van ons daaglikse lewe. Om daarna op ’n dieper vlak te kan kyk is wonderlik.” Haar doelwit by HSS is dat elke leerder in hulself sal glo en hul volle potensiaal sal bereik deur hard te werk en hul beste te gee. “Deur dit nou toe te pas, berei dit jou ook voor vir die lewe na skool,” voeg sy by.

Hattingh van Dyk (30) se droom vir HSS is om die beste skool te wees wat vir niemand en niks hoef terug te staan nie. Hy het aan die begin van 2023 by HSS as die nuwe bemarker en geldinsamelaar aangesluit. Van Dyk, oorspronklik van Bronkhorstspruit af waar hy skoolgegaan het, het ná universiteit op Potchefstroom as bemarker, geldinsamelaar en sport-organiseerder by ’n skool op Robertson aangesluit. Hy het ná vyf jaar die pos beskikbaar by HSS gewaar en geweet dit is tyd vir groter uitdagings en meer geleenthede. “Dit is ook nader aan die Kaap,” lag hy.

Sy doelwit vir die skool is om HSS mededingend te maak teenoor ander groot skole. “Ons wil hê dat HSS ’n bekende skool in die Wes-Kaap moet wees en daarmee saam beter geleenthede vir kinders bied.”

Hy sê ook dit is belangrik om die plaaslike gemeenskap by hul plaaslike hoërskool betrokke te kry. “Al gee hy R1 of bak ’n pannekoek, ons wil almal betrokke kry.” Van Dyk is op ’n missie om verhoudings te bou en bande te smee. Hoewel hy besef dit tyd gaan neem, besef hy ook dit is ’n belangrike aspek wat gaan bydra tot die sukses van die skool.

Vir Van Dyk is die mense in Malmesbury gasvry. Hy kyk nie vir een oomblik terug nie en sien uit na wat die toekoms vir HSS inhou. Die jaar het skaars afgeskop en dié skool neem reeds baie spasie op die plaaslike kalender op. Daar kom tot ’n skoolfees, om net ’n paar te noem.

Hy voeg by dat die personeel nie daaraan gewoond is om so baie in so ’n kort tydjie te sien gebeur nie. Almal, insluitend die beheerliggaam gee hul ondersteuning en staan bankvas agter hom en sy inisiatiewe, wat ongelooflik is, vertel Van Dyk.

“Jy moet jou skool verkoop op die regte manier. As ek ’n kind beter geleenthede kan aanbied, moet hy of sy eenvoudig na ons toe kom,” brei hy uit. Die bemarkingspan wat volgens hom ook die sportorganiseerder insluit, is hard aan die werk agter die skerms. “Alles wat uit die kantoor na buite gaan, is vir ons belangrik, van ’n advertensie tot idee of ’n puntetelling,” voeg hy by.

Janco Schutte (29), HSS se nuwe sportorganiseerder al die pad van Delarayville vanuit Noord-Wes, is dit eens dat die skool se beeld na buite prioriteit is. Dit gaan egter vir hom oor meer as dit. “Dit gaan vir my oor die kinders,” begin hy. Schutte het ’n paar draaie geloop voor hy by HSS opgeëindig het. Hy het onder meer by Potchefstroom Gimnasium skoolgegaan waar hy in die koshuis was. Dit is ook waar hy studeer het voordat hy Schweizer-Reneke toe is as sportorganiseerder en onderwyser. Covid het hom na Amerika gestuur waar hy op ’n plaas gewerk het. Schutte het Desember vanuit die VSA teruggekeer, aansoek gedoen en al die pad na die Swartland vir die onderhoud gery voor hy gehoor het sy aansoek was suksesvol. Die ekstra myle het vrugte afgewerp en Schutte staan nou reeds vir die afgelope twee weke die pos vol.

Vir hom is dit belangrik om die kind te sien vir wie hy of sy regtig is.

“Jy sien ’n kind by die skool, maar weet nie regtig wie hulle is en vanwaar hulle kom nie. Baie kinders het baie slegte omstandighede by die huis. Hulle het nie noodwendig aanvaarding of liefde nie, maar wanneer hulle op die sportveld kom, maak niks anders saak nie. Maak nie saak wie jy is en hoeveel geld jou ouers het nie. Jy is gelyk,” beklemtoon hy.

Schutte wil elke kind die geleentheid gee om ’n sport te kan doen soos wat hy of sy dit graag wil doen binne veilige omstandighede. Hy erken dat resultate wel nagestreef word en hulle poog om die skool kompeterend te maak, maar dit gaan gepaard met die kinders wat in hulself begin glo,” verduidelik hy. “Die talent is nie te min nie, maar die selfvertroue in hul eie vermoë wel, waaraan daar gewerk moet word.”

Hulle probeer ook hard om die bande tussen die Laerskool Swartland en die hoërskool so sterk as moontlik te maak. “Ons keer nie die kinders om weg te gaan nie. Ons wil vir hulle dieselfde geleenthede gee as wat hulle by ander groot skole sou kry.”

Hy sê voorts dat alle kinders verskillend ontwikkel. “Dit is waarom ons oefengroepe nie net fokus op A-spanne nie, maar ouderdomsgroepe,” brei hy onder meer uit.

Hy sê verder uit ondervinding dat ouers wat gedurende die laaste vyf jaar van skool betrokke is by hul kind en by die sport, help met positiwiteit en toewyding word gekweek. “Dit gaan om ’n kultuur te bou vir ’n gemeenskap wat inkoop in dit wat ons wil doen met die sport,” voeg hy by.

Alle sport is vir hom lekker, vertel hy. “Daar is ’n gemeenskaplike gevoel van jy wat aan iets behoort en dis belangrik om jou liggaam gesond te hou.”

Die skool gaan poog om die kinders van vroeg af te vestig in ’n gesonde leefstyl. “As die kinders glimlag en gelukkig is, het ek my werk gedoen,” sluit hy af. Vir navrae, voorstelle of inligting, kontak Schutte by sport@swartlandhs.co.za en Van Dyk by bemarker@swartlandhs.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article