Die Swartlandse kusdorp Yzerfontein was sowat 12 jaar gelede in rep en roer toe ’n Wes-Afrikaanse kabelstelsel (WACS) vroeg die oggend op 19 April 2011 op die hoofstrand aangekom het.

Maandag 5 Desember kom daar nóg ’n veseloptiese kabel van MTN, as een van die 12 konsortiumeienaars, aan wal.

Die kabelprojek het destyds ’n verdere verlaging in die koste van internasionale bandwydte vir Suid-Afrika ingehou.

Die sowat 14 000 km lange kabel is by ’n landingstasie in Yzerfontein ingeskakel. Toe die projek destyds aangekondig is, het Telkom gesê dit sal Suid-Afrika se breëbandkapasiteit met 500 gigagrepe per sekonde (Gbps) vergroot.

Telkom was ’n groot aandeelhouer in die konsortium wat die ondersese kabel gelê het. Ander lede is Broadband Infraco, MTN, Neotel en Vodacom, asook ’n paar ander Afrika-operateurs wat uit sy 14 landingspunte aan die Weskus van die vasteland voordeel trek, waarvan 12 langs die Westelike kus van Afrika en twee in Europa is.

Die kabel loop langs die Weskus van Afrika en eindig in Londen in die Verenigde Koninkryk, wat beteken het verdere verbindings na Europa en Amerika sou deur die Verenigde Koninkryk kon gaan.

WACS is deur Alcatel-Lucent se filiaal, Submarine Cable Networks (ASB) vervaardig en geïnstalleer en die konstruksiewerk het in 2009 begin. Die hele projek het sowat $650 miljoen (sowat R4,5 miljard) gekos.

Karel Pienaar, die destydse besturende direkteur van MTN SA, het gedurende dié geleentheid aan Die Swartlander gesê die kommersialisering van die WACS en ander ondersese kabels skep die geleentheid vir ’n revolusie vir mobiele tegnologie.

Besoekers en inwoners moet daarop let dat die hoofstrand en sy parkeerarea op daardie dag vir die publiek gesluit sal wees. Slegs 40 BBP-gaste is na die geleentheid genooi. Die gebeure sal tussen 07:00 en 12:30 plaasvind, afhangende van die skip se aankoms, wat moontlik deur gure weer beïnvloed kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article