Van links staan Ngange Nongogo van die hospitaalgroep se vennoot Summit Africa Private Equity, wat in hospitale belê, sowel as Reg Magennis, uitvoerende hoof van Crestcare, Deon Krüger, finansiële direkteur van Crestcare en Kit Wostenholm, die bedryfshoof by Crestcare. Foto’s: Charlotte Lesch


Genooide gaste, van wie die Swartland-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, die eregas was, het die afgelope week vir die eerste keer deur die gange van die nuwe Crestcare Malmesbury-private hospitaal, wat tans in aanbou is, gestap.

Lede van die Swartland-munisipaliteit, plaaslike medici en alle rolspelers betrokke by die projek, het die geleentheid tydens ’n spesiale besoek aan die bouperseel as besonders beskryf.

Volgens die mediahuis, Purple Pine Communications, vorder die Devmark-eiendomsgroep se De Zwartland Werf-ontwikkeling, waarvan die Crestcare- private hospitaal deel is, fluks.

“De Zwartland Werf, wat deur die bekroonde Devmark Property Group bekend gestel is, vorder goed met die kleinhandelsentrum en Toyota-vertoonlokaal wat teen einde Oktober vanjaar voltooi sal wees. Die Crestcare- private hospitaal sal teen April volgende jaar open.”

Direkteure van die hospitaalgroep wat Woensdag by die geleentheid teenwoordig was, het gaste die versekering gegee dat inwoners kan uitsien na ’n hospitaal van topgehalte. Die private hospitaal beloof om die voorste mediese praktisyns te huisves wat pasiënte eersdaags by dié fasiliteite sal kan bedien.

Kit Wolstenholm, bedryfshoof by die Crestcare-hospitaalgroep, het die plaaslike munisipaliteit, die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement en alle rolspelers geloof vir hul ongelooflike samewerking in die ontwikkeling. “Die filosofie rakende die Crestcare- private hospitale is een van span-georiënteerde medisyne, samewerking en waar gefokus word op die primêre pasiënt wat ons dienste nodig het. Nou is dit nie meer nodig om na ander hospitale te gaan vir hulp nie. Hier is ’n dinamiese span spesialiste waarna uitgesien kan word.”

Wolstenholm het vertel hoe van eksterne konsultante gebruik gemaak is vir ’n demografiese analise wat onder meer aan die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement as deel van hul aanvanklike voorlegging voorgelê is om te bepaal wat die behoefte in die gebied is en hoeveel beddens nodig gaan wees.

Die gebou maak tans voorsiening vir 84 beddens.

Verdere lewensvatbaarheidstudies wat ná die Covid-19 uitbreking gedoen is, het getoon ’n behoefte aan 170 beddens sal teen 2025 bestaan. Danksy goeie beplanning gaan in die volgende fase voorsiening gemaak word vir ’n verdere 24 beddens, voeg Wolstenholm by.

“Daar is baie potensiaal vir uitbreiding”, het hy opgewonde gesê. Volgens hom bestaan die groep uit ’n professionele span wat dinge anders gaan doen.

Joggie Scholtz, munisipale bestuurder van die Swartland, het ’n terugblik gegee oor die infrastruktuur van die dorp en die groot rol wat dit in die ontwikkeling en uitbreiding van Malmesbury vervul het.

Scholtz het vlugtig gepraat oor die geleenthede, wat die verdubbeling van die N7-snelweg, na die streek gebring het, insluitend die rioolwateraanleg van 10 megaliter, wat die munisipaliteit in 2009 R150 miljoen gekos het. “Dit was die regte besluit om in infrastruktuur te belê,” het Scholtz beklemtoon. Volgens hom is die grootste uitdagings van so ontwikkeling rompslomp, tyd en ’n tekort aan infrastruktuur. Dit is waarom die munisipaliteit die strategiese besluit geneem het om in infrastruktuur belê. “Dit is nie ons rykdom wat infrastruktuur ontwikkel nie – infrastruktuur ontwikkel ons rykdom. Jul belegging sal nie net tot ons rykdom bydra nie, maar tot die maatskaplike welstand van die gemeenskap van die hele gebied.”

Die Crestcare- private hospitaal bestaan uit ’n dubbelverdieping wat ’n kraam- en pediatriese afdeling asook ’n neonatale waakeenheid sal huisves. Die hospitaal sal ook ’n ongevalle/trauma-eenheid, ’n chirurgiesaal, ’n mediese saal en ’n waakeenheid hê. Verder sal dokters-spreekkamers, wat op ’n unieke wyse byeen gebring is, ’n koffiewinkel en kafeteria, ’n administratiewe afdeling en ’n apteek ook deel wees. ’n Radiologie-afdeling en ’n plaaslike patologie-afdeling sal ook gehuisves word. Daarbenewens sal die hospitaal ook vier teaters hê.

Dit was vir die ontwikkelaars en beplanners baie belangrik om natuurryke ontspanningslokale in die vorm van verbeeldingryke binnehowe te skep, waar pasiënte vars lug kan geniet.

“Dit was ons droom en ons glo dat ons ’n groot sukses van hierdie droom gaan maak,” het Ngange Nongogo van Summit Africa Private Equities, die meerderheidsaandeelhouer in die hospitaalgroep, gesê. Volgens hom word nou voortgebou op die hoekstene van die dorp wat ontdek is danksy gehaltegesondheidsorg. Hy het gaste herinner aan die helende krag van die plaaslike warmwaterbron en waaraan Malmesbury sy oorsprong te danke het. Nongogo het bygevoeg hy is veral opgewonde oor die sowat 200 permanente werksgeleenthede wat hier geskep gaan word. Die uitvoerende burgemeester het daarby aangesluit deur sy dankbaarheid teenoor die hospitaalgroep uit te spreek wat reeds baie werk na die dorp gebring het. Hy het die groep verder bedank vir die feit dat hy die Swartland gekies het. “Julle sal nooit spyt wees dat julle Malmesbury gekies het nie. Ons het alles. Dit is die plek om te wees.”

Bouwerk sal voorlopig op 8 April 2024 voltooi wees, gevolg deur ’n sowat drie maande lange tydperk waartydens alle toerusting en personeel ter voorbereiding vir die openingsdag ingebring sal word.

Twin City is die ontwikkelaars van die gebou, en die span van Isipani is as die kontrakteurs aangestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article