Jonathan Kaplan op die terrein waar die opgrawings gedoen word. Foto: Charlotte Lesch


’n Ongelooflike 45 grafte is tot dusver op die bouperseel by die NG Kerk Swartland-moedergemeente op Malmesbury ontdek en aangeteken. Dít kom nadat grondwerk en die konstruksie van die nuwe kerksaal tydelik tot stilstand geroep is toe daar op nóg grafte onder die grond afgekom is.

Chris Murphy, ’n plaaslike erfeniskonsultant, is in 2020 tydens die beplanning van die ontwikkeling gevra om te help met die nodige permitte, voor daar met verdere beplanning voortgegaan kon word.

Die bouplanne is op 31 Desember 2021 goedgekeur nadat ’n permit van Erfenis Wes-Kaap ontvang is.

Die bestuur van die kerk en alle betrokkenes by die voornemende projek het toe alle nodige stappe geneem sodat die projek vlot kon verloop.

Die kerk is in 1979 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Met die kerkgebou en die muur om die perseel wat ’n historiese monument is, asook jare oue grafte wat daar geleë is, was fyn beplanning nodig, vertel Denzil Holloway, voorsitter van die bestuur.

Toe die nodige permitte en amptelike goedkeuring in plek was, kon daar met die historiese aspek van die bouprojek voortgegaan word.

Die argeoloog Jonathan Kaplan, wat as die amptelike verteenwoordiger van Erfenis Wes-Kaap aangestel is, het saam met Murphy en ander betrokkenes die bouterrein aan die begin van Mei 2022 besoek.

Van die eerste stappe wat geneem is, was om ’n ou boom te verwyder (“Boom, ou grafte vir saal verskuif”, Swartland Gazette, 17 Mei 2022).

Die graf van ene J.P Coetzer, wat op 10 Januarie 1892 oorlede is, asook dié van sy dogter, Anna M.J.E van Dyk wat op 30 November 1897 oorlede is, was aanvanklik geleë op die plek waar die saal tans gebou word.

Anja Huisamen, student-argeoloog onder leiding van Kaplan, is gevra om na die oorledenes se oorskot te soek.

Sy het op 5 Mei 2022 dié graf wat deur pa en dogter gedeel word, begin opgrawe.

Intussen is noodpermitte by Erfenis Wes-Kaap verkry toe daar nog grafte ontdek is.

Hoewel ’n radar wat ondergronds soek nie enigiets opgetel het nie, het hulle vermoed dat daar nog grafte sou kon wees.

Konstruksie is tydelik deur Erfenis Wes-Kaap tot ’n halt gebring en ’n openbare deelnameproses is gevolg voor noodpermitte uitgereik is om die uitgrawings te mag doen.

Wat volgens Kaplan aanvanklik ’n paar dae sou neem, duur nou reeds drie weke, soos daar op een graf na die ander afgekom word.

“Dit het ons almal verras,” sê Kaplan.

Op die stadium vermoed hy dat die mense reeds voor 1751, toe die eerste kerk gebou is, daar begrawe is.VVervolg op bl.2

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article