Die Langeberg Children Group het verlede week ’n skenking van boeke vir hul naskoolse huiswerk en leesprojek ontvang.
Die skenking kom van Angels of Hope.
“Antoinette Naude van Angels of Hope het nagenoeg 60 leesboeke gebring. Die boeke word gebruik vir die leesprojek, wat ons ná skool vir die kinders in Droëheuwel aanbied. Ons het ook ’n huiswerkklas,” verduidelik Danny September, voorsitter van Langeberg Children Group, ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag.
Die organisasie bestuur ook ’n sopkombuis en help die gemeenskap op ander maniere.
“Die sopkombuis gaan nou weer besig begin raak omdat dit so koud is, en dit buite seisoen, so baie meer mense sit nou sonder werk. Ons help ook mense met klere en komberse vir die koue.”
Die organisasie gaan aanstaande maand ’n geldinsameling hou sodat hulle gereed kan wees vir die koue maande wat voorlê.
“Ons hou Vrydag 8 Julie ’n geldinsameling by Cosy Cove. Die opbrengs van hierdie geleentheid sal dan gebruik word om meer bestanddele vir die sopkombuis aan te skaf,” sê September.
September wil ook die gemeenskap aanmoedig om meer klere en komberse aan hul inisiatief te skenk.
“Ons het tans baie boeke vir die kinders, en ons is so dankbaar daarvoor. Ons het egter meer klere, komberse en bestanddele nodig.
“Een van die ander probleme wat ons het, is te min ruimte vir al die kinders. Noudat dit kouer raak, kom meer kinders na ons toe, want hulle weet hulle gaan iets te eet kry. As iemand ons dalk te hulp kan snel met ons ruimte-probleem, sal dit baie waardeer word.
“Ons is oneindig dankbaar aan dié wat gereeld skenkings aan ons doen en sê hartlik dankie aan Cosy Cove, Debonairs, Delmayne Cookson, Lilly Alexander en Theodore van der Merwe vir hul volgehoue bystand.”
Enigiemand wat geld of produkte aan Langeberg Children Group wil skenk, kan Danny September by 060 433 3192 bel.





