Inwoners van dorpe en stede oor Suid-Afrika heen is al behoorlik keelvol vir beurtkrag, maar dit blyk huishoudings en sakeondernemings moet hulself maar staal vir nog langer en meer gereelde kragonderbrekings.
Beurtkrag is ’n term wat al sedert 2008 met ons is, en nou – 14 jaar later – is die probleem steeds onopgelos en verligting blyk ’n onbereikbare droom te wees.
Die invloed van beurtkrag op huishoudings en sakeondernemings is astronomies.
“Hoe moet ons oorleef? Hoe moet ons nog meer uit ons eie sak betaal net om ons deure oop te hou, en dit nadat ons jaarliks meer en meer vir krag moet opdok?”
Dít is van die vrae wat José Manuel, die eienaar van twee plaaslike wegneemkos-restaurante in die Langeberg-streek.
Manuel bestuur die ondernemings al die afgelope 12 jaar en sê hy sou al lankal sy winkels in Robertson en Bonnievale kon opgradeer, mits beurtkrag en die uitwerking daarvan hom en sy ondernemings nie so gekniehalter het nie.
Eskom het in ’n onlangse perskonferensie bevestig hy gaan voortaan nie verder dieselreserwes inspan om die land se kragkrisis te probeer minimaliseer nie.
“Hierdie impak sal ongelukkig tot meer beurtkrag lei en meer gereelde onderbrekings veroorsaak. Ons doen ons beste om die situasie te bestuur, en daar is hoop. Ons vra net geduld, al is dit moeilik,” het Eskom in verklaring gesê.
’n Bekende wynprodusent in die streek het op voorwaarde van anonimiteit met Gazette gesels en gesê hul onderneming ly groot skade weens beurtkrag.
“Ons benodig duisende liters brandstof om ons kragopwekkers aan die gang te hou. Ons het ook sonkragtoestelle en batterykragopwekkers ingespan om die las te verminder. Ons bestee ’n magdom geld om net die pot aan die kook te hou. In watter ander land sal jy hierdie verskynsel sien?”
Talle ouers het hul misnoeë rakende die situasie op sosiale media uitgespreek.
Hulle sê beurtkrag op kort kennisgewing het ’n invloed op hul beplanning – veral wanneer kinders (nou in die eksamentyd) moet en kan leer, wanneer etes berei moet word, wanneer wasgoed gewas moet word, ensovoorts.





