Bevan Abrahams van Lillies soek aansluiting by sy spanmaat in hul wedstryd teen Newtons van Wellington. Foto: Heinrich Robertson


Met nog twee wedstryde oor in die Sanlam-Boland-Top-12-uitspeelrondes kan Abbotsdale en Darling nie meer aanspraak maak op die topvierposisies nie.

In ’n klipharde wedstryd op Abbotsdale het Lillies en Newtons van Wellington mekaar gepak. Newton het uit die staanspoor die pas aangegee en twee vinnige drieë gedruk en die voortou met 12-0 geneem.

Lillies het egter teruggeslaan en die telling gelykop gemaak met ’n verdoelde en onverdoelde drie in die 28ste minuut. Toe die manne rustyd gaan stoom afblaas, was die telling 19 elk.

Newtons, wat die gang van wedstryd bepaal het, het Lillies uitoorlê met slim taktiek en die punte opgestapel en Lillies van balbesit weerhou en sodoende Lillies se vinnige agterlyn geneutraliseer.

Met 75 minute verstreke en Newtons aan die voorpunt met 33-29, het ’n geelkaart die gang van die wedstryd verander. Lillies het dit uitgebuit en die bordjies verhang en in die 78ste minuut gaan druk om die eerste keer in die wedstryd voor te loop – 34-33.

Met speeltyd verstreke het Lillies nog ’n aanval in Newtons se 22 m gebied uitgevoer, maar die bal is onderskep deur Newtons se heelagter, wat 60 m genael het om langs die pale te gaan druk. Die doelskop was oor en Newtons het met 40-34 gewen.

Darling het op sy beurt vriend en vyand verras toe hy die magtige Safcol United tot in die 79ste minuut in sy agterplaas in toom gehou het met 35-35. Darling, wat die tweede helfte oorheers het, se dissipline het hom egter in die laaste minuut in die steek gelaat toe hy gestraf word deur oor die bal te gaan. Safcol, wat vir die eerste keer sy rieme styfgeloop het, se doelskopper het die strafdoel reg voor die pale oorgeklits en met 38-35 gewen.

Volledige uitslae:

Caledon 61-17 Vanrhynsdorp Eagles; Young Spurs 38-36 Robertson; Ceres 30-49 Saldanha; Vredenburg 30-31 Villagers

Wedstrydbepalings: 2 November

Newtons t. Vanrhynsdorp Eagles; Worcester Villagers t. Caledon; Safcol United t. Young Spurs; Vredenburg t. Abbotsdale; Robertson t. Saldanha; Darling t. Ceres.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article