MONTAGU – Hy is al vir jare diep bekommerd oor die verval van die jeug ten opsigte van hul kulturele, morele en opvoedkundige aspek van hul lewensomstandighede, sê dominee Reggie Boesak, stamhoof van die Hessekwa-kultuurraad (Montagu).
Met die Wêreldbeker-netbaltoernooi wat later vanjaar van 28 Julie tot 6 Augustus in Kaapstad plaasvind, is Boesak van mening dis nou die ideale tyd om die jeug se belangstelling vas te vang en by netbal betrokke te kry.
Daarom het hy besluit om juis nou ’n netbalklub op die been te bring.
Volgens Boesak is die stigting van die netbalklub in pas met die doelstellings van die Hessekwa-kultuurraad.
Die stamhoof verduidelik: “Die doeleindes van die Hessekwa-kultuurraad van Montagu is dié met ’n kenmerkende kultuur, geskiedkundige verbintenis met tradisionele grond en wie binne die Wes-Kaap gemarginaliseerd ontneem en verskuif is.
“Die Hessekwa-kultuurraad se visie is om die kultuurgoedere van die Hessekwa-gemeenskap in die wydste moontlike sin te herwin, te behou, uit te bou en vir die toekoms te verseker.
“Dit sluit in: identiteit, godsdiens, taal, grondreg, oerwaardes, opvoeding en geskiedenis, erfenis en intellektuele eiendom.”
Boesak sê voorts die Hessekwa-kultuurraad se visie is menseregte, omgewing, ontwikkeling, opvoeding, kuns en kultuur, gesondheid, ekonomiese sake, vroue, jeug en kinders asook kommunikasie.
“Laat ek dit egter duidelik stel – ons is nie ’n politieke organisasie nie,” benadruk Boesak ernstig en gaan dan voort. “Dis op bogenoemde gronde dat ek besluit het om ’n netbalklub onder leiding van die Hessekwa-kultuurraad te stig.”
Volgens die stamhoof is die kultuurraad deel van – en val dit onder – die jurisdiksie van die departement van sport en kultuur.
“Die idee is dat daar net een netbalklub in Montagu bestaan waaraan die hele gemeenskap deel sal hê. Ek sluit almal in – die jeug, spesifiek die vroulike geslag, sowel as volwassenes.”
Boesak is van mening dit sal eenheid en samewerking bewerkstellig en hy glo ook dit sal dien “as ’n samewerkende en samebindende faktor”.
Die netbalklub val dus direk onder die vaandel van die departement van sport en kultuur en staan ook direk onder die beheer van die Hessekwa-kultuurraad. Die span sal as “Die Hessies” bekend staan, verduidelik Boesak verder.
Die klub is amptelik in Oktober 2022 aan huis van die stamhoof se woning geleë in Magnoliastraat, Montagu, gestig en vorm deel van die Kaapse Wynland-netbalunie, aldus Boesak.
Die klub se geldsake word deur die kultuurraad beheer.
Volgens Boesak is hy die beskermheer van die klub en Sanja van der Lande, ’n Hollander, is ’n ere-lid. Die voorsitter is Marquarita Pyl en Linda Wilschut rig die span af.
Ter afsluiting noem Boesak verskeie waardes wat die klub wil uitleef en handhaaf.
“Laastens gaan dit oor samewerking, lojaliteit, respek, gehoorsaamheid, dissipline, getrouheid, deursettingsvermoë, karakterbou en die eer van God, ons Skepper.
“Verder wil ek dankie sê aan alle ouers en helpers vir die suksesvolle bekendstelling van die klub. Ek is besonders trots op die Hessies!” het Boesak breëbors afgesluit.





