Die nuutgestigte Abbotsdale-netbalklub bied hul eerste toernooi op 24 September aan.

Credit: SYSTEM

’n Passie en liefde vir die sport het tot die stigting van Abbotsdale se eie netbalklub gelei, wat sy intrek agter die gemeenskapsaal in Mei geneem het.

Brittanéé Appollus, die voorsitter en hoofafrigter van die Abbotsdale-netbalklub, het in haar jong dae op haar beurt nasionale kleure vir netbal verwerf.

“Ons klub bestaan tans uit 40 geregistreerde spelers. Gayline Koopman is die tesourier en Ferial Swanepoel staan aan die administratiewe kant. Al drie ons hooflede van die klub speel ook self netbal,” sê Appollus.

Volgens Appollus gebruik hulle die tennisbane agter die Abbotsdale-gemeenskapsaal, wat tans in netbalbane omgeskep word.

“Ons het die eerste drie maande sonder beligting op die bane geoefen, maar namate die tyd aanbeweeg het, het die klub gevorder en ons het beligting gekry,” sê sy.

Appollus sê hulle is tans besig om die mure van die klubhuis te pleister en sal binnekort die lyne op die baan aanbring.

“Daar is baie potensiaal in ons gemeenskap – veral onder die meisies – en hierdie klub is vir daardie jong meisies ook gestig om hulle weg van moeilikheid soos dwelm- en daggagebruik te hou,” sê Appollus.

Die netbalklub is dus ook ’n rehabilitasieprogram waar spelers soos familie voel.

Die Abbotsdale-netbalklub moedig die spelers aan om hul skoolloopbane te voltooi.

“Die meeste van hierdie spelers kom uit ’n moeilike agtergrond en erge huislike omstandighede. Op die baan vat die spelers daardie omstandighede en skep dit in positiewe energie om. Hulle gee goeie samewerking en luister nie net na die afrigters nie, maar motiveer mekaar ook.”

Volgens Appollus word hul eerste toernooi Saterdag 24 September gehou en hulle nooi elke klub wat belangstel, om deel te neem. Pryse kan gewen word. Inskrywings kos R300 per span.

Sertifikate en medaljes sal ook uitgedeel word..Vir meer inligting kontak Appollus by 067 294 7308.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article