Die Sanlam-Boland-Top-12 het Saterdag 21 Oktober begin en ondersteuners van Wesbank, Safcol United, Darling en Hawston het in groot getalle na die Gabriel Pharoah-sportveld in Darling en die Grabouw-sportterrein gestroom.
Darling is deur Hawston se blitzkrieg in die eerste 20 minute geskud toe hy drie vinnige drieë gedruk het, waarvan twee onderskep is deur Wesley Spandiel (vleuel) en Dawid Gerber (slot) vir ’n voorsprong van 17-11 teen rustyd en in die doodsnikke met ’n 40-39-oorwinning.
Safcol United, debutant in die Sanlam-Boland-Top-12, het op sy beurt seker gemaak dat hy sy eersterondewedstryd teen Wesbank op ’n hoë noot afskop toe hy die klipharde stryd met 21-15 gewen het.
Hawston het Darling uit die staanspoor laat bontstaan as hy op die aanval gegaan het en kort ná rustyd ’n bonusdrie vir ’n voorsprong van 26-11 behaal. Darling, wat met 15 punte agter was, het sy terugvegpoging begin toe sy kaptein, Earl Lewis, met brute krag deurgebreek en langs die pale oorgeval het om die telling tot 18-26 te laat krimp.
Jedwin Fortuin het Darling se derde drie gedruk ná goeie spel deur die voorspelers, en die agterstand tot een punt vernou. Hawston het egter ander planne gehad; hy staan immers nie verniet bekend as “skrik vir niks” nie en het gou teruggeslaan met ’n vyfde verdoelde drie deur Roland Swarts, om die telling tot 33-25 op te skuif.
Hoewel Darling beter begin speel en die skrums begin oorheers het, kon hy steeds nie Hawston se houvas op die wedstryd breek nie, want Hawston het hom geen ruimte gegee nie.
Ongedissiplineerde spel en onnodige aanslane deur Darling het tot sy dilemma bygedra. Die wedstryd het tot die laaste vyf minute wipplank gery. Toe die skeidsregter ’n strafdrie in die 32ste minuut aan Darling toeken en Verdeen Daniels Darling se vyfde drie druk, het Darling die eerste keer die voortou in die 35ste minuut van die tweede helfte geneem met die telling 39-33.
Dit het gelyk of Darling die knoop gaan deurhaak, maar Hawston het weer gewys hy skrik vir niks bie en het in die doodsnikke van die wedstryd laaste gelag toe hy in die 38ste minuut ’n drie in die hoekie gedruk het. Die skare was tjoepstil toe die losskakel, Roland Swarts, aanlê pale toe en die bal hoog en suiwer deur die pale seil, wat Hawston ’n oorwinning van 40-39 verseker het.
In Grabouw het die debutant Safcol United sy buiging in die Sanlam-Boland-Top-12 gemaak en die koringboere, Wesbank, op tuisbodem aangedurf. Die wedstryd was kliphard en genadeloos.
Safcol het egter eerste bloed geruik en die wedstryd met ’n verdoelde drie geopen, maar Wesbank het egter met ’n onverdoelde drie teruggeslaan.
Safcol het die bal lustig rondgeslinger, maar ongelukkig nie met die sneller Matthew van der Westhuizen rekening gehou nie, wat die bal uit die lug gepluk en onder die pale afgerond het. Dié drie is deur Gavern Skippers verdoel vir ’n voorsprong van 12-7.
Skippers het die telling tot 15-7 in die 30ste minuut van die eerste helfte vergroot toe Safcol vir onkantspel gestraf is.
Safcol het egter teruggebons en net voor rustyd met ’n verdoelde drie geantwoord.
Al twee spanne het goed verdedig, maar Safcol was net ’n kop voor vir Wesbank, en hy het ook die enigste punte met ’n drie in die tweede hefte aangeteken om die opwindende wedstryd met 21-15 te wen.
Ná afloop van die eerste ronde kan ondersteuners hulle klaarmaak vir klipharde rugby wanneer die tuisspan die span van Mamre eerskomende naweek op Wesbank pak.
Ander uitslae van ronde een:
Mamre 23-45 Young Hamiltons
Robertson Town 25-24 Saldanhabaai
Vanrhynsdorp Eagles 22-32 Roses United
Bella Vista 29-12 Delicious NW





