Die amptelike opgrawings op die NG Kerk Swartland-moedergemeente se bouperseel in Malmesbury, waar talle grafte ontdek is, het verlede Woensdag tot ’n einde gekom. Altesaam 52 grafte is uiteindelik opgeteken, terwyl 44 verwyder is om later weer op die kerk se perseel begrawe te word. ’n Verdere agt grafte is op die plek waar hulle ontdek is, in vrede gelaat en vir bewaringsdoeleindes toegebou.
Só vertel Johnathan Kaplan, die aangestelde argeoloog wat vir die opgrawings van die grafte verantwoordelik was.
Die volgende stap behels die kuratorskap en die uitdroog van die oorskot, terwyl Anja Huisamen, ’n student-argeoloog op die terrein, ’n verslag oor die opgrawings sal uitreik.
Nadat die kerk finansiering vir verdere navorsing by die argiewe in Kaapstad toegestaan het, hoop hulle om meer oor die geleende plase waarop die kerk gebou is, uit te vind. Kaplan hoop ook om op moontlike rekords van die begraafplaas of grafte af te kom.
Erfenis Wes-Kaap gaan versoek word om die oorskot fisiek te bestudeer om die geslag en ouderdomme te bepaal, maar ook uit te vind of die mense aan siektes, trauma of beserings gely het. “Ons sal ook historiese voorvaders kan vasstel,” sê hy opgewonde. Hoewel talle bespiegelings oor die grafte die ronde doen, sê Kaplan mense moet wag en kyk wat die navorsing oplewer.




