In ’n naelbyt-wedstryd tussen Darling en Roses United die afgelope Saterdag (18 November) het die tuisspan op die Gabriel Faroa-sportsterrein (Byenes) seker gemaak dat hy komende Saterdag (25 November) teen Safcol United in die halfeindstryd speel nadat hy Roses United met 40-33 verslaan het.
Wesbank het ook daarin geslaag om Bella Vista in sy agterplaas te tem toe Dashton Wellman ’n skepdoel in die doodsnikke oorgeklits het om naelskraaps met 30-29 te wen.
Roses het eerste bloed geruik toe die kaptein en skrumskakel Percival Williams ná ’n vaste skrum langs die pale in die regterkantse hoekie oorgeval het. Damian Engeldoe het die doelskop oorgeklits vir ’n voorsprong van 7-0.
Met ’n sterk wind wat op die Byenes gewoed het, het Darling Roses stadig maar seker voorlangs getap en dan met sy agterlyn toegeslaan.
Roses het vir 35 minute aan Darling se agterspeen gesuig en geen antwoord vir Darling se inklimspel gehad nie, en was in die moeilikheid toe Darling 26 punte op die telbord geplaas het ná goeie spel deur sy voor- en agterspelers. Wildon Marsh (2), JP Abrahams (1) en Hubert Cleophas (1) het vier drieë vir Darling gedruk.
Darling se kaptein, Earl Lewis, se spel het ’n invloed op sy spanmaats gehad en met Gerrit Carolus en Wildon Marsh aan die spits het hulle Roses soos maalvleis gemaal met aanvalle. Darling het sy bonus-drie net voor rustyd deur Hubert Cleophas aangeteken en sy voorsprong tot 26-7 vergroot.
In die tweede helfte is uitstekende rugby aan die skare opgedis deur Darling en Roses en die borge kan tevrede voel met hul belegging in die Sanlam-Boland-Top-12 rugbykompetisie.
Roses United het egter geweier om te gaan lê en in die tweede helfte teruggeveg. Darling is tot in sy fondament geskut toe Roses 26 punte aanteken en met 33-26 vir die tweede keer die voortou in die wedstryd geneem het.
Ná ’n volle agterlynbeweging deur Darling in Roses se 22-m-gebied het Ryle Daniels in die regterkantse hoekie oorgeval, maar die skeidsregter het beslis dit was ná ’n vorentoe aangee. Darling het egter die voordeel gekry omdat Roses deur die skeidsregter gestraf is vir onkantspel voor die beweging en Darling het ’n vaste skrum verkies. Lewis het Roses se doellyn aangeval en vyf meter voor die doellyn gestuit. ’n Losskrum is afgedwing, wat die groot John Sameuls in staat gestel het om ’n drie langs die pale te druk, met Lewis wat die ekstras bygevoeg het om die telling op 33 elk te bring.
Darling het in die 72ste minuut ’n aanval uit sy eie halfgebied begin met Lewis wat die meester was met ’n rolskop wat Gerrit Carolus voor twee Roses-verdedigers uit die lug gepluk het om langs die pale af te rond. Lewis was in die kol met die twee punte en Darling was 40-33 voor.
Roses het egter in die laaste vyf minute verwoed aangeval om punte aan te teken, maar Darling se verdediging en dissipline het gehou en hy het as wenner uit die stryd getree en verseker dat hy Safcol United Saterdag (25 November) op Wellington pak.. In Ceres het Wesbank, nog ’n Swartland-span, vir Bella Vista in sy agterplaas met 30-29 verslaan en seker gemaak hy speel in die ander halfeindstryd teen Robertson se Dorpspan toe Dashton Wellman ’n skepskop oorgeklits het.
Wesbank, wat net twee punte nodig gehad het, het die wedstryd gewen en daarmee seker gemaak dat die Swartland-streek twee finaliste in die halfeindstryde het.
Die moontlikheid van ’n Swartland-eindstryd op 2 Desember is nie uitgesluit nie, maar Wesbank en Darling sal eers met Robertson en Safcol moet afreken.





