As jy praat van ’n sterk vroue-duo, is die eerste name waaraan jy moet dink, dié van die Masterchef 2022-naaswenner, Andriëtte de la Harpe, en haar sakevennoot, Janelie Kruger.
Hierdie twee inspirerende vroue is die baasbreine agter die nuut oorgedoende Red Chair Bistro net buite Robertson en wil aan vroue wys waar hul krag lê.
Dié twee gebore Kapenaars het mekaar jare gelede ontmoet, gekliek en sommer saam ingetrek. Daarna het hulle saam begin droom en die wêreld van kos en spesiale geleenthede behoorlik op horings geneem.
“Ons het saam begin werk en in ons vrye tyd gereeld idees uitgeruil en mekaar geïnspireer om uniek te wees – ek met koeke en sy (Janelie) met haar organisering van geleenthede,” vertel Andriëtte aan Gazette.
Janelie verduidelik sy staan agter die bestuur van die bistro en Andriëtte sien toe dat die spyskaart pronk met interessante disse, tradisionele etes en gebak, soos haar befaamde wortelkoek – wortelkoek “so lekker dat die Masterchef beoordeelaars dit nie-amptelik aangewys het as die beste wat al gemaak is”.
“Ek is nogal trots op my wortelkoek. Ons sjokeladebruintjies is ook ’n wenner. Dit is lekker om ook verskillende disse te kan opdroom en mense aan ander goed te kan blootstel,” voeg Andriëtte by.
Sy vertel hoe sy eintlik aanvanklik skrikkerig was om vir dié bekende kosmaakkompetisie in te skryf.
“Ons albei het verlede jaar ons werk verloor. Dit was ’n rowwe tyd. Ek het nog altyd koeke gebak, en saam het ons toe die besigheid, ’n Mondvol, in die Kaap begin. Ek is genader om vir Masterchef in te skryf en het aanvanklik volstrek geweier. Ek het getwyfel of ek dit sou kon doen. Ek het eendag wakker geword en net vir myself gesê ek kan. En ek het.”
Andriëtte het haar staal ronde vir ronde het gewys. Talle het haar gekritiseer vir die emosie wat sy gewys het, maar vandag is sy nie ’n oomblik spyt nie.
“In my emosie en in my trane lê my krag. Dit is wie ek is. Dit is hoe ek optree. Baie sien dit as swak, maar dis waar hulle my onderskat. Dit was ’n eer om as die naaswenner te kon eindig,” vertel sy.
Nou kyk sy en Janelie vorentoe. Hul het die bistro amptelik op 1 Julie oorgeneem en balanseer steeds hul belange met die onderneming in die Kaap.
Hulle is absoluut gek oor Robertson.
“Dit is so vriendelike plek. Jy ontmoet soveel interessante mense, en almal laat jou welkom en tuis voel. Ek het sommer reeds by die sakekamer aangesluit en ek is vasbeslote om meer in die gemeenskap betrokke te raak,” voeg Janelie by.
Die twee sakevroue sê dit is vir hulle belangrik om veral aan vroue te wys dat hulle enigiets kan bereik.
“Droom groot, want jy kan. Met harde werk kan jy enigiets bereik. Werk só totdat jy die beste is wat jy kan wees. Glo in jouself. Vat kanse en vertrou jou instink,” sê hulle.





