Hercu Hofmeyr (66) van Malmesbury vier sy grootste ultramarathon-mylpaal nog te midde van die verlies van sy grootste ondersteuner, sy vrou, Wilna (63).
Wilna is op 30 Mei oorlede – tien dae voor Hofmeyr se 40ste Comrades-marathon.
Met sy vrou se hartaanval sowat twee maande gelede het Hofmeyr steeds bly oefen. Dit was vir hom egter moeilik om die nodige motivering te vind om wel die wedloop te gaan hardloop.
Volgens Hofmeyr was hy eenvoudig net nie in die bui om deel te neem nie.
“In die oggend het hy nog gesê hy was nie lus vir hardloop nie, hy het net gaan hardloop omdat Mamma wou gehad het hy moet gaan hardloop,” voeg sy dogter Magda (29) trots by.
Dit is nou vier dae later en hy voel goed, ongeag ’n besering naby die 46-km-merk Drummond.
Hofmeyr het geval en sy oogbank lelik beseer. “My bril se glas het my gesny. Ek het net bloed gesien.” Tog het hy vinnig weer herstel. “Dit het so ’n tydjie gevat, toe is ek weer orraait,” glimlag hy.
Ander deelnemers het Hofmeyr ten tyde die besering bygestaan, vinnig met water en ’n paar pleisters gedokter en toegesien dat hy die res van die wedloop verder aandurf.
Vanjaar was dit veronderstel om sy 41ste Comrades te wees wat hy voltooi, was dit nie vir krampe wat hy verlede jaar in sy bene in die omgewing van Pinetown ervaar het nie. Dit het hom steeds nie weerhou om vanjaar sy wedloop binne 11 ure, 34 minute en 11 sekondes te voltooi nie. Hy was in 1993 weens ’n motorongeluk ook nie in staat om die Comrades te hardloop nie.
Hofmeyr se beste tyd nog was in 1997 met die geboorte van sy seun Wynand (nou 27) met ’n tyd van ses ure en 38 minute.
Sy eerste Comrades was in 1981.
Hofmeyr het in sy vroeë 20’s ’n rugbybesering opgedoen. En omdat hy sedert sy skooldae gehardloop het, was draf die volgende beste wat oefening betref. Hofmeyr het nie net daardie jaar sy eerste Red Hill-wedloop aangepak nie, maar ook die Kaapse Skiereiland-, die Twee Oseane- én die uitmergelende Comrades-marathon. Hoewel Magda nog altyd haar pa as die hardloop-kampioen gesien het, bly sy steeds in verwondering dat hy binne sy eerste jaar van ultramarathonne nie net een nie, maar vier wedlope aangedurf en boonop in goeie tye voltooi het. Hy het sy eerste Comrades-wedloop in 8:11:66 voltooi, terwyl sy Twee Oseane-wedloop net-net langer as vier ure geneem het.
Volgens Hofmeyr bestaan geen geheim tot die voltooiing van ’n ultra-marathon nie, behalwe gereelde oefening “en jou kop moet reg wees”.
“Glo jy kan dit doen,” moedig hy aan.
Hofmeyr spog nie met sy medaljes in ’n vertoonkas in die ingangsportaal nie. Daar is reeds ’n kis vol. Hy hang sy medaljes oor ’n kas soos hy dit ontvang, en wanneer dit te veel raak, verdwyn hulle kis toe. Dit was nooit sy doelwit om professioneel te hardloop nie, maar om dit te voltooi. Hy bieg en sê hy kan nie twee dae sonder ’n drafsessie gaan nie en oefen byna daagliks saam met vier mede klublede.
Mense vra hom elke jaar of dit sy laaste ultra-wedloop was. Hy antwoord altyd dat die Comrades die laaste vir die jaar was. Behalwe vir ’n paar half-en ’n aantal vol-marathon-wedlope wat nou voorlê, sien hy reeds kans vir volgende jaar se Comrades.
Hofmeyr beskryf die op-wedloop van Durban na Pietermaritzburg as die beste, hoewel die af-wedloop makliker is. Sy huis is boonop teen ’n bult geleë en Hofmeyr pak altyd eerste die bult aan wanneer hy gaan oefen, skerts hy.
Hy het vanjaar se omstandighede as “goed” beskryf, behalwe dat Durban kouer as gewoonlik was. Sy val het hom ook nie ondergekry nie. “Dit het eintlik baie goed gegaan.”
Gedurende sy eerste Comrades-jare het hy maar min ondersteuners langs die pad gehad. “As dit vanjaar nie vir die toeskouers was nie, het ek vanjaar baie stadiger gehardloop,” voeg hy by.
Wilna was gewoonlik die een wat hom van die kantlyn af aangemoedig het. “Sy was ook kwaai,” spot Magda. “Ná tien ure, dan skel sy uit. Sy bel my en vra waar is my pappa, ‘hy moet al in wees!’ Maar ons weet dit was uit liefde.” Sy het haar kinders net so aangemoedig wanneer dit by sport kom. Magda en Wynand was ook kranige swemmers op skool. Wynand is vandag ’n ywerige fietsryer en Magda hardloop nes haar pa. Beide is lede van die plaaslike Swartland-atletiekklub.
Magda, wat vanjaar haar ma se skoene moes vol staan, het by die eindstreep op Hofmeyr gewag. Sy beoog om die wedloop oor drie jaar met die Comrades se 100ste bestaansjaar saam met haar pa aan te pak.. Wilna se roudiens het die afgelope Saterdag in die NG Swartland-moedergemeente plaasgevind.




