’n Groep inwoners van Mountain View wat die vergadering bygewoon het.

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Die behuisingsnood in die dorp en mense se basiese regte op water, sanitasie en elektrisiteit was tydens ’n vergadering van inwoners van die Mountain View informele nedersetting duskant die Ashburywoonbuurt, ’n groot besprekingspunt.

Dié vergadering, gelei deur Calvin Pekeur, voorsitter van die Montagu Gemeenskapsforum, is Dinsdag 19 Julie, sommer in die opelug voor die informele woonstruktuur van ’n gestremde tannie, gehou.

Die inwoners van gemelde nedersetting dring daarop aan dat die Langeberg Munisipaliteit hulle nou van water, sanitasiegeriewe en krag voorsien nadat daar tans 57 woonstrukture in genoemde gebied opgerig en bewoon word.

Volgens Pekeur is die munisipaliteit volgens wetgewing verplig om sodanige dienste te verskaf sodra ’n informele nedersetting 51 en meer wooneenhede beslaan.

“Dis nie ’n wet wat ek gemaak het nie, dis ’n wet wat daar is wat sê as die struktuur 48 uur staan, mag niemand dit verwyder nie. Die wet gaan verder en sê as daar 51 en meer strukture staan, is dit ’n informele nedersetting. En dan gaan hy dienste kry wat insluit water, krag, ’n toilet, al daai geriewe,” sê Pekeur.

Hoewel hulle aandring op al bogenoemde basiese dienste verlang hulle op dié stadium dat die munisipaliteit voorlopig net water aanlê en ’n spreilig oprig, volgens Pekeur.

Hy sê Mountain View het twee maande gelede in ’n vergadering met die munisipale raad hul versoeke duidelik uitgespel en hulle wag nou op die raad om na hulle terug te kom.

“Maar nou, vir eers, wil ons net fokus op twee goed. Dis die water en ’n spreilig, sodat hier lig kan wees,” sê Pekeur.

Hy sê voorts Mountain View is die “skoonste en netjiesste” informele nedersetting in die “hele” Langebergstreek en dis danksy die mense wat hier woon.

Volgens Pekeur is Mountain View ’n misdaadvrye gebied en het die polisie nog nie een klagte in die sowat twee jaar wat die nedersetting al bestaan, uit hierdie spesifieke gedeelte ontvang nie.

’n E-pos met ’n versoek om kommentaar oor dié versoek is dieselfde dag (19 Julie) aan munisipale bestuurder Mike Mgajo, via die munisipaliteit se kommunikasiekantoor gestuur, maar dis tot op hede steeds onbeantwoord.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article