Die Tuck-it Thursdays-motorentoesiasgroep hou eersdaags sy eerste verjaardag in die vorm van ’n motorskou, The Suburbs.
Die groep is begin deur Daniëll Adendorff, wat vir sy tuisdorp, Robertson, wou wys motorentoesiaste kan bymekaarkom sonder om onwettige straatrenne te hou. Nog ’n doel was ook om terug te gee aan die verskeie gemeenskappe van die Langeberg.
Die groep se amptelike verjaardag is eers in Maart, maar hulle begin reeds op 25 Februarie met hul vieringe met ’n motorskou op McGregor Primêre Skool se terrein.
“Ons het baie lank na ’n plek in die Langeberg gesoek waar ons ’n motorskou kon hou. Die munisipaliteit wou nie help nie, want hulle wil nie motors op hul gras hê nie, en die skole het natuurlik ook maar hul eie reëls,” verduidelik Adendorf.
Die hoof by McGregor het ingestem dat hulle die skou daar kan hou. Die skool is ook die begunstigde aan wie die opbrengs van die dag geskenk gaan word.
“McGregor is maar ’n klein dorpie. Ons as Tuck-it Thursdays het ’n paar maande gelede een van ons weeklikse saamtrekke daar gehou en ek het toe opgelet hoeveel kinders daar is wat ook ’n groot belangstelling in motors het, en dus het ek besluit om hierdie saamtrek daar te hou. Dit gee ons ook die geleentheid om die skool finansieel te ondersteun.”
Die hekke open om 10:00 en die motorskoukompetisie begin om 13:00.
“Ons gaan vier afdelings hê waaraan bestuurders en hul motors kan deelneem – dit is low limbo, beste wiele, best static en best show and shine. Die wenners van elke afdeling wen ’n trofee en ’n sertifikaat ook. Die beoordelaars vir die dag is Curt Stevens, Eugene Claassen en Angelo Torode.”
Adendorf nooi almal uit om die dag saam met hulle en die skool te geniet.
“Die skool gaan ook verskeie stalletjies op die dag beman. Ons het ook ’n borg gekry van ’n maatskappy in Worcester wat Soft Play-speelgoed vir die kinders gaan bring om mee te speel. Daar sal ook verskeie DJ’s wees wat op die dag gaan musiek maak, en die skool hou na afloop van ons verrigtinge ’n dans by die skool.”
Adendorff wil graag alle sakeondernemings en individue nooi om enige borgskappe of skenkings aan die skool en sy leerders beskikbaar te stel.
“Ondernemings kan selfs hul produkte op die dag kom uitstal.”
Toegang beloop R20 vir volwassenes en R10 vir kinders. Bestuurders betaal net vir die verskillende afdelings waarin hulle gaan deelneem en dit kos R50 per inskrywing per afdeling.




