Moorreesburg en Darling het mekaar Saterdag (12 Julie) op die Moorreesburg-sportterrein in ‘n gespanne Boland-Grootuitdaagbeker-wedstryd van die Swartlandstreek die stryd aangesê.
Darling het, nadat hy drie opeenvolgende ligawedstryde verloor het, vroeg momentum gebou toe sy heelagter ‘n drie in die linkerhoek afgerond het. Die doelskop was ongelukkig mis, maar die besoekers het die neus 0-5 voor gekry.
‘n Geelkaart het Moorreesburg vir 10 minute tot 14 spelers beperk, maar die span het vinnig hergroepeer en teruggeveg. Hannes Morris het in die 19de minuut afgerond ná ‘n puik lynbreek deur die agterlyn met Arno Fortuin wat verdoel het (7-5).
Darling het sy voorsprong met twee drieë – deur Tyrique Oppelt en Jedwin Fortuin – tot 7-19 teen rustyd vergroot.
Ná rustyd het Morris ná goeie spel sy tweede drie gedruk en Curtley Dawson het ‘n aanslaan van Darling bemeester en agter die doellyn gekuier om die telling gelyk te trek (19-19).
Al twee spanne het hulle aan ongeoorloofde spel skuldig gemaak, wat tot twee geelkaarte in die tweede hefte gelei het, met Samoa wat ‘n tweede in die wedstryd ontvang het. ‘n Strafskop deur Oppelt het Darling weer voor geplaas met 19-22 met net drie minute oor.
Moorreesburg het egter die laaste paar minute onder geweldige druk van Darling kalm gebly. ‘n Strafskop en ‘n losskrum in die 79ste minuut het Donielle Karolus die geleentheid gegee om drie verdedigende spelers vir die wendrie af te stamp. Die suksesvolle doelskop het die eindtelling op 26-22 vasgemaak.
Darling se laaste aanval is gestuit en ‘n gewisse drie is verhoed. Hoewel Samoa se dissipline in die wedstryd nie na wense was nie, het hy tog sy kanse benut toe dit saakgemaak het.
Die afrigter Janiel Carolus en sy span sal nou voor die volgende uitdaging aan strukture en dissipline moet werk.
Vir Darling is dit terug tekenbord toe om regstellings te maak waar hy fouteer het.
Al die Grootuitdaag-uitslae vir Saterdag 12 Julie:
– Swartland: Moorreesburg 26-22 Darling; Abbotsdale 38-30 Never Despairs; Riebeeck United 36-44 Saron; Goodhopes 27-34 Porterville; Wesbank 39-20 Villagers Wittewater.
– Weskus: Vredenburg 52-27 Young Hearts; Piketberg 36-28 Langebaan; Goedverwacht 32-57 Velddrif; Saldanha 26-10 Hopefield; St Helena 24-17 Paternoster.
Wedstryde vir Saterdag 19 Julie:
- Wesbank t. Porterville;
- Darling t. Goodhopes;
- Abbottsdale t. Moorreesburg;
- Villagers Wittewater t. Never Despairs;
- Riebeeck United t. Mamre; en
- Voorberg t. Saron.





